Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die matriekleerder van Hoërskool Punt wie se lewe verlede Woensdag drasties verander het toe hy voor skool in Louis Fourieweg voor die landdroshof met sy bromponie in 'n ongeluk betrokke was, herstel tans tuis na 'n operasie aan sy gebreekte been.
Tyron Casey (18), moes dié dag sy Afrikaanse taalvraestel skryf. Hy het verlede Donderdag sy ekonomievraestel gemis. Vrydag sou hy sy rekenaartegnologievraestel skryf.
Volgens sy ma, Henriëtte, gaan hulle probeer om hom vandag, Vrydag 22 November, met die rolstoel by die skool te kry om sy Afrikaanse taalvraestel en Maandag, 25 November sy Engelse vraestel te kan skryf.
Die vakke wat hy egter gemis het sal hy tydens die Junie/Julie-hereksamens volgende jaar kan skryf.
Tyron beplan steeds om by die tegniese kollege in te skryf vir elektriese ingenieurswese. Hy het nie 'n matrieksertifikaat daarvoor nie.
Tyron Casey (18) hier in goeie luim na die operasie. Foto: Verskaf
Botsing
Tyron was in die nat weer met sy bromponie op pad skool toe, toe hy teen die agterkant van 'n Nissan-bakkie gebots het. Hoewel hy tydens die aanvanklike botsing nie erg beseer is nie, het hy tydens die botsing van sy bromponie afgeval en in die aankomende baan beland waarna 'n donkerblou Hyundai, oor sy bene gery het.
Die Hyundai, wat volgens 'n ander ooggetuie deur 'n man bestuur is, het van die toneel af weggejaag.
Twee van Tyron se skoolmaats het gesien hoe die Hyundai oor sy bene ry. Tyron se bobeen is in die proses gebreek. Hy is daarna vanaf die Mosselbaai provinsiale hospitaal na George oorgeplaas waar sy been tydens 'n operasie met plate en skroewe geheg is.
Die ongelukstoneel op Woensdag 13 November voor die hof in Louis Fourieweg.
Foto: Jannie du Plessis
Volgens sy ma gaan dit goed met hom. "Die been is nog geswel en hy drink pynpille en probeer om met die loopraam geloop te kry." Die Hyundai is egter nog nie opgespoor nie.
Luister na video waar Tyron vertel van die ongeluk!
Tyron hier in die hospitaal saam met vriende en familie. Foto: Verskaf
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'