MOSSELBAAI NUUS - Heemloosheid en die sosiale probleme wat dit meebring is indringend bespreek met die LUR van maatskaplike ontwikkeling, Minister Sharna Fernandez en verteenwoordigers van haar departement.
Onder aanvoering van die waarnemende burgemeester, raadsheer Dirk Kotzé het verteenwoordigers van die Mosselbaai-munisipaliteit die minister ingelig van die groeiende tendens van heemloosheid en die sosiale probleme wat daaruit spruit.
Die departement van maatskaplike ontwikkeling is grootliks verantwoordlik vir dienste aan heemloses.
Verskeie faktore, onder meer die uitmergelende effek van die Covid-19-pandemie is bydraend tot die toename in mense wat nie 'n heenkome in bestaande strukture wat na heemloses opsien, kan kry nie en wat gevolglik op straat 'n heenkome soek en van die aalmoese van ander vir oorlewing afhanklik is.
Ongelukkig is onaanvaarbare sosiale gedrag, soos onder meer brandstigting die gevolg van die toenemende getal heemloses in die area en 'n beroep is op die minisiter en haar departement om indringend na die probleem om te sien.
Die munisipaliteit het gevra dat programme om die heemloses met hul families te herenig opgeskerp moet. Die departement het gevra dat vennootskappe met nie-regeringsorganisasies en sakelui versterk moet word om te help om die dilemma die hoof te bied.
Minister Fernandes het onderneem om Mosselbaai eersdaags persoonlik te besoek om ondersoek in te stel na die omvang van die probleem, projekte wat uitgevoer word om dit aan te spreek en om die gesprek daaroor met die munisipaliteit verder te voer.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'