Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Dit is bevestig, stoomtreinentoesiaste het nog lank nie die einde gesien van die groot ou reuse wat verlede Sondag soveel ouer mense met heimweë aan hul kinderdae laat terugdink het nie.
Boonop gaan oud en jonk binnekort die kans kry om self weer te beleef hoe 'n stoomtrein deur die Suid-Kaap kuier.
Die Ceres Railway Company se eienaar, Derick du Toit, het aan die Mossel Bay Advertiser bevestig dat hulle in 2018 deel van die groter Dias & Portfees gaan vorm.
Op versoek van Transnet sal die Ceres Railway Company volgende jaar vanaf 2 Februarie tot en met 5 Februarie Mosselbaai weer besoek en die stoomtreine sal vanaf Voorbaai ten minste twee plaaslike dagritte onderneem.
"Dit is maar enkele van die interessante toekomstige verwikkelinge," aldus Du Toit.
Hy sê hul trein sal op 1 Februarie uit Ceres na Mosselbaai vertrek en boonop besoekers met hul saambring na die heelwat groter Dias&Portfees.
In Mosselbaai sal hierdie passasiers in die Diaz Beach Hotel oorbly terwyl plaaslike stoomtreinaanhangers op 3 Februarie 'n rit na die George-vervoermuseum, en op 4 Februarie 'n daguitstappie na Oudtshoorn en terug kan onderneem.
Op 5 Februarie vertrek die stoomtrein weer terug na Swellendam en daarna na Ceres.
Dit bied toeskouers weer 'n geleentheid om "die goeie ou dae" van stoomtreine te kan beleef.
Gegroet
Die afgelope Sondagoggend het talle Mosselbaaiers op Hartenbosstasie en omstreke vir Jessica, die oliebrander klas 19D, nommer 3321 stoomlokomotief gegroet toe sy onder die vaardige hande van masjinis Cassie Carstens met kolomme stoom wat die lug ingeblaas die stasie en Mosselbaai verlaat het nadat sy weer vir 'n roetinediens onder die kundige hande van Bobby Rudman en sy span onder hande geneem is.
Jessica en haar tweeling, Dominique word tans as deel van 'n aantal stoomlokomotiewe deur die Ceres Railway Company vir toerisme aangewend.
Prentjiemooi kom Jessica deur die treinbrug oor die Goukourivier. Foto: Mariska Visagie
Vier lokomotiewe
Die twee vennote van die Ceres Railway Company, Du Toit en Simon Beckett, het vier van die groot ou reuse van weleer van roes en vergetelheid gered.
Vandag word nie net die twee oliebranders Jessica en Dominique nie, maar ook die klas 19B genaamd Bailey en die Rooi Duiwel, 'n klas 26 - enig in sy soort - gereeld vir toerisme aangewend.
Al vier dié lokomotiewe is deur Rudman en sy span by die hersteldepot in Voorbaai tot hul glorie van ouds herstel.
Skouspel
Daar was egter geen keer nie aan die opgewondenheid van oud en jonk wat van vroeg reeds by Hartenbosstasie en by voorkeurplekke langs die roete stelling ingeneem het om die skouspel van 'n ware stoomtrein weer eens te beskou.
Dis baie weinig dat 'n ou stoomlokomotief nog in aksie gesien kan word, binnekort kom kuier die ou reuse van weleer egter weer op Mosselbaai.
Grootouers het Sondag met entoesiasme met hul kleinkinders hul treinryherinneringe gedeel, ander het onophoudelik foto's geneem terwyl algar op die perron van 'n interessante kameraderie gespreek het.
Heelparty die wens uitgespreek het dat Mosselbaai en die Suid-Kaap se treinspore gou weer 'n permanente tuiste moet bied aan die groot ou reuse van spoorverkeer, veral ook ter wille van toerisme-ontwikkeling ook in dié streek.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
FOTO'S: DAVE VAN DER MERWE EN MARISKA VISAGIE
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'