Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Om beide jou ouers binne die bestek van 16 dae aan die dood af te staan, is vepletterend. Veral as beide slagoffers van Covid-19 was.
Manie Steyn het eers sy ma, Lena (83) op Nuwejaarsdag en toe sy pa, Piet (79) op Sondag, 16 Januarie verloor.
Die Steyn-egpaar was 19 jaar lank geliefde inwoners van Hartenbos, maar meer nog sal hulle altyd onthou word vir die skouspel van Kersfeesliggies wat talle na hulle huis in Vegkoplaan gelok het.
Die Steyns het van Roodepoort, Gauteng na Hartenbos verhuis toe Piet uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens tree.
Sestien jaar gelede, toe Manie by sy ouers op Hartenbos vakansie hou, toe begin hulle die huis vir die feesgety optooi.
Fotogallery: Liggies skyn nie meer
"Ek wou al ophou daarmee, maar my pa het dit so geniet, ons het net aangehou," het Manie vandeesweek by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
"Daar was volgens Manie nooit 'n plan om talle mense na die huis toe te trek soos aanvanklik begin gebeur het nie, hulle wou dit bloot mooimaak vir die Kerstyd. "Veral die kinders het dit so begin geniet en dit is hoekom ons aangehou het, want Kersfees gaan mos eintlik oor die kinders."
Manie vertel dat die huis in Vegkoplaan later soveel mense met sy feesliggies getrek het, dat dit by tye soos 'n outydse inryteater begin lyk het as gevolg van die toestroming.
"My pa was verskriklik liefdevol en het sulke tye pal in die straat geloop en met mense gesels. Hy was mal daaroor."
Die nuus dat sy ma die Covid-19-virus opgedoen het was 'n groot skok. "Ons het Kersfees nog almal saam gaan eet. Dit was ons eerste keer saam in maande." Na Kersdag het sy ma begin siek voel. Sy is hospitaal toe geneem en met die Covid-19-virus gediagnoseer.
"Sy is 02:10 op Nuwejaarsdag in die hospitaal oorlede," sê 'n emosionele Manie. Sy pa het hierna ook 'n Covid-19-toets gehad wat eers negatief was.
Toe hy ook begin siek voel, het 'n tweede toets hulle vrese bevestig.
"Die skok van my ma se dood was net te erg vir hom. Hy wou nie meer nie," sê Manie.
Piet Steyn is verlede Sondagmiddag oorlede. Manie se suster, wat pas afgetree het, sal voortaan in die Vegkoplaan-huis bly. Hy sê hy weet nie of hy sal aangaan met die liggies nie, sy hart is te seer.
"Ek sal dit dalk nog vanjaar doen ter herdenking aan my pa. Maar ek kan nie nou al sê wat in die toekoms sal gebeur nie."
Piet Steyn is gister, Donderdag 21 Januarie in die Hartenbos-begraafplaas begrawe.
'n Liggieskouspel in Vegkoplaan. Lena Steyn deel 'n drukkie uit.
Piet Steyn voor die bekende "liggiehuis" in Vegkoplaan, Hartenbos.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'