MOSSELBAAI NUUS - 'n Liggaam wat sodanig ontbind is dat dit nie geïdentifiseer kan word nie, is Dinsdagoggend op die grasbedekte skouer van Louis Fourieweg naby die Spar ontdek.
Werkers wat juis die gras gesny het, het die polisie ontbied na die gru-ontdekking gemaak is.
"Volgens die kleredrag blyk dit 'n man te wees. Tot nog toe is egter geen vermiste persone by die Mosselbaai-polisiestasie aangemeld nie," aldus die stasiebevelvoerder, lt kol Albert Haggard.
Om ongeveer 12:05 op Dinsdag, 13 November het ao Van den Berg van die Mosselbaai-polisie reageer op 'n klagte dat werkers 'n liggaam op die padskouer langs Louis Fourieweg rigting George aangetref het.
Uit die aanvanklike ondersoek blyk geen gemene spel nie. Die liggaam is in die sorg van die Wes-Kaapse departement van forensiese dienste. Die oorsaak van dood sal forensies bepaal word. Die Mosselbaai-polisie het 'n dossier vir 'n geregtelike doodsondersoek geopen.
Enige persoon met inligting word versoek om die Mosselbaai-polisie (044 606 2805) te kontak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'