MOSSELBAAI NUUS - Munisipale straatskoonmakers het vanoggend, Maandag 25 Januarie op die liggaam van ‘n onbekende man tussen bosse naby Mikeva Hyper op Mosselbaai afgekom.
Die slagoffer het drie meswonde gehad, waarvan een in sy bors toegedien is. Die polisie het ook op ‘n mes wat op die toneel gevind is beslag gelê.
Da Gamaskop-polisiekommunikasiebeampte, kapt Wollie Fourie sê die oorledene se identiteit is tans aan hulle onbekend.
Die man het ‘n ligte kleur hemp, vermoedelik wit gedra, met ‘n blou driekwart khaki broek en New City blou sandale. Hy het ‘n goue horlosie aan sy linkerarm gedra en het ‘n diamant oorbel in sy een oor gehad.
Fourie sê die oorledene het ‘n gekleurde gesigmasker gedra wat onder sy ken afgetrek was en sy hare is afgeskeer.
Die polisie vra dat enigeen wie weet wie die slagoffer is, die polisiekantoor sal kontak (044 606 2200). Die polisie ondersoek ‘n saak van moord.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'