Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO'S - Dit is opmerklik dat die fokus van dié jaar se Valentynsvieringe nie gaan oor romantiese liefde nie maar eerder oor liefde vir mekaar, vir jou medemens en vir jou gemeenskap.
Soos die Good Things Guy in 'n Facebook-plasing geskryf het, liefde is 'n daad. Die Groot-Brakrivier-polisiestasie het 14 Februarie gevier deur uit te reik na die gemeenskap.
FOTOGALERY: Valentynsvieringe meer as net liefde
Die kinders van die Powerkids kleuterskool in Powertown het 'n voedsame bord kos gekry en 'n beertjie wat met baie liefde deur lede van die Groot Brak-gemeenskap vir hulle gemaak is.
Die woordvoerder van die Groot-Brakrivier-polisiestasie, sers Lauriane Botha, Basil van Rooyen van die buurtwag en interne, Bydon Slinger het 'n tydjie afgeknyp om die kinders wat meestal in rooi T-hemde getooi was, te bederf. Volgens Botha, gaan liefde vir haar oor gee, soos in Korinthiërs 13 geskryf staan en dat vandag se uitreik, deur die Here, op haar hart gelê is.
"Dit is 'n voorreg om vir die kinders uit liefde kos te gee. Ons is een gemeenskap en almal staan saam."
Die hoof van die skool, Melissa Mei, sê hulle is afhanklik van die NG Kerk Reebok vir fondse en is baie dankbaar vir enige hulp. Hulle het twee jaar gelede na die lokaal in Klein Brak geskuif vanaf die lokaal in Powertown wat onveilig was omdat dit onder die vloedlyn geleë was.
"Ons voel hier bietjie afgesonderd van die res van die gemeenskap. Ons is besig om as NPO te registreer en kry dus nog nie hulp van die staat nie."
Sy sal graag nog opgeleide personeel wil hê om haar te help om vir die 28 kleuters 'n gesonde, basiese opvoeding te gee. Vir enige bydraes aan die kleuterskool, kan sers Botha gekontak word op 073 551 7358.
VIDEO - Sersant Lauriane Botha verduidelik hoekom Valentynsdag dade van liefde vir jou gemeenskap is.
VIDEO - Die prinsipaal van die Powerkids kleuterskool, Melissa Mei, vertel meer oor die skool se behoeftes.
Die kinders van Powerkids met die beertjies wat hul by die Groot-Brakrivier-polisielede gekry het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'