Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Plaaslike rockgroep Van Konings het weer 'n nuwe musiekvideo uit wat sedert Woensdag, 8 Julie op hulle Facebookblad te siene is.
Die musiekvideo het bo en behalwe baie positiewe kommentaar, al meer as 20 000 trefslae gehad.
Children of Africa is gedurende die grendeltydperk vervaardig. Eintlik, vertel Leon van Rensburg, sanger en liedjieskrywer van die groep, dat hy die liedjie al bykans 20 jaar gelede geskryf het.
"Omdat dit so 'n Afrika-ritme het, het ek altyd gevoel dit pas nie by Van Koning se styl nie, want ons is 'n rockgroep. " Met die nasionale ramptoestand vanweë Covid-19 en die gevolglike inperking, het Van Rensburg se familielede egter gevoel dat Children of Africa dalk net die regte medisyne vir swaar gemoedere sou wees. Daarom het hulle hom aangemoedig om dit uiteindelik op te neem.
So gesê, so gedaan. Videograaf en joernalis Wessel van Heerden van die George Herald, die Mossel Bay Advertiser se susterskoerant, wat Van Konings se vorige musiekvideos vervaardig het, het weer aangetree om te help.
"Ons het al die videos van die musikante se optredes apart voor 'n green screen opgeneem en toe alles vir Wessel gestuur om aanmekaar te sit. Dus is kontak met mekaar geminimaliseer, soos van ons verwag word," verduidelik Van Rensburg.
Volg die skakel hieronder om die video te sien
https://www.facebook.com/793110210757636/videos/274044520480097/
Van Heerden sê dat die redigeringsproses nogal moeilik was omdat hy en die groep se lede mekaar nie kon sien nie. "Gewoonlik begin ek elke video met 'n duidelik uitgewerkte draaiboek, maar hier moes ons maar spoeg en plak."
Hy meen al is dit 'n eenvoudige video, het dit goeie trefkrag met 'n boodskap ideaal vir die hedendaagse tyd. Van Heerden het 'n hele paar musiekvideos vir ander groepe op sy kerfstok wat tans op kykNET vertoon word, onder andere Van Konings se Probeer nog 'n keer. Hy het al sewe videos vir dié groep vervaardig.
Van Rensburg sê dat die opname vir Children of Africa beslis op die regte tyd gemaak en vrygestel is. "Tye soos dit nou in Suid-Afrika, en ook oor die hele wêreld is, roep vir 'n boodskap van hoop. En dit is waaroor die liedjie gaan. Dis so belangrik dat mense net weer positief voel."
Van Rensburg sê dat hy, soveel as wat hy musiek maak geniet, dankbaar is dat dit nie sy brood en botter tans is nie. "Ek voel baie jammer vir almal in die vermaaklikheidsbedryf wat die afgelope tyd baie swaar trek. Hierdie liedjie is veral vir hulle."
Leon van Rensburg
Morne van Rensburg
Jemin Koen
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'