MOSSELBAAI NUUS - 'n Lewensdroom het vir Kobus Crous, eienaar van Bergsig-wildsplaas buite Hartenbos waar geword toe drie leeus, 'n maanhaar en twee wyfies onlangs hulle op sy plaas kom tuismaak het.
Die leeus was tot onlangs op Botlierskop, maar het op 21 Februarie na Bergsig verhuis waar hulle onmiddellik tuis was in die spesiaal ingerigte area wat sedertdien aan hulle behoort.
Kobus se eggenoot, Lizelle sê vir solank as wat sy hom ken, was dit die een droom wat hy graag wou bewaarheid.
Hulle vertel van die streng reëls vir die aanhou van dié diere, die voorbereiding van die area waar die diere los sal kan rondloop en al die reëlings om die troppie op die plaas en tuis in hul nuwe huis te kry. "Vir die aanhou van elk van die diersoorte op die plaas, en veral nou ook die leeus, moet 'n behoorlike omgewingsimpakanalise en bestuursplan aan Natuurbewaring voorgelê word om te verseker dat behoorlik en volhoubaar na die diere omgesien kan word."
Behoorlike skuilings is vir die leeus aangebring, en gou was die wyfies op die dak daarvan om hul nuwe omgewing te bespied. Kobus sê planne vorder om 'n chalet op te rig waar gaste, op hul beurt, die leeus se manewales sal kan dophou.
Die leeus bring Kobus nader aan nóg 'n droom; om binnekort met al die diere van die groot vyf op Bergsig te kan spog.
Kobus en Lizelle Crous van Bergsig by die leeumannetjie wat Kobus se drome waar gemaak het.
Die leeumannetjie was nie so geïnteresseerd soos sy wyfie wat haar nuwe omgewing van bo-op die nuwe skuiling verken het nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'