MOSSELBAAI NUUS - Lank lewe die vreugde van lees by die Mosselbaai-biblioteek!
Vir ses dekades, bedien dié biblioteek reeds die Mosselbaaise gemeenskap waar die magiese wêreld van lees mense op talle verbeeldingsreise kan neem.
Die biblioteek het op Vrydag, 29 November, sy 60ste bestaansjaar gevier as die oudste instansie van sy soort om die gemeenskap op Mosselbaai te dien.
Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie, het dié feesvieringe bygewoon.
Mackenzie het gesê hy is lief vir lees omdat 'n biblioteek sy lewe verander het. Hy noem ook dat dit sy taak is om te verseker dat die liefde vir lees voortduur en verder uitgebou word.
Die minister het uitgebrei oor die Re-imagine Libraries-projek, en het verduidelik die doel daarvan is om te belê in en meer te doen vir biblioteke regoor die Wes-Kaap.
"Ons het onaangekondigde besoeke by biblioteke in die Wes-Kaap gedoen om te sien wat in ons biblioteke gebeur. Ons wil sien wat in ons biblioteke werk om dit by sowat 376 biblioteke in die provinsie te dupliseer."
Een van dié onverwagte besoeke het ook 'n besoek op Outdshoorn ingesluit.
Hy vertel dat by dié biblioteek word van hawelose kinders verwag om vyf bladsye uit 'n boek in die biblioteek te lees voordat hulle aan die speletjies, wat binne die gebou beskikbaar is, mag deelneem.
Vroeër vanjaar het Mossel Bay Advertiser berig dat die Mosselbaai-biblioteek erken is as 'n finalis vir die Openbare/Gemeenskapsbiblioteek van die Jaar-toekenning, wat deur die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (BIVSA) aangebied word.
Mosselbaai-biblioteek het 'n elektroniese stelsel ontwikkel om dienslewering te verbeter.
Dié stelsel is intussen by alle biblioteke binne die munispale area van Mosselbaai geïmplimenteer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’