Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - ’n Ouer van ’n Mosselbaai-hoërskool het ’n saak van aanranding by die polisie aanhangig gemaak na ’n voorval by haar seun se skool hierdie week.
Die ma, Joan Morris, sê sy is bekommerd oor haar seun, ’n 14-jarige leerder van Hoërskool Sao Bras, se veiligheid en emosionele welstand.
Sy dring daarop aan dat daar opgetree word teen die leerder wat haar seun na bewering aangerand het. Volgens haar het haar seun beserings aan sy gesig en nek.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys het bevestig daar was ’n “onderonsie tussen twee leerders by Hoërskool Sao Bras wat gelei het tot een leerder was in die gesig geslaan is”.
Volgens die departement het skoolpersoneel dadelik hulp aangebied na die voorval, insluitend noodhulp vir die beseerde leerder.
“Beide leerders is geskors hangende ’n dissiplinêre verhoor. Die skoolhoof het na die ouers van beide leerders uitgereik.”
VIDEO: Beweerde aanranding by Hoërskool Sao Bras
Mossel Bay Advertiser het betroubaar verneem die leerder wat glo die slagoffer aangerand het, het vandag, 30 Mei, reeds voor die dissiplinêre komitee van die skool verskyn. Die uitslag van dié verskyning is nog nie bekend nie.
Van die polisie se kant af het ’n woordvoerder vir die polisie, sers. Chris Spies, bevestig ’n jeugdige is geskeduleer om vandag in die Mosselbaai-landdroshof te verskyn in verband met ’n voorval by ’n skool. Spies sê die beskuldigde staar ’n aanklag van aanranding in die gesig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’