Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Toerisme wêreldwyd beleef tans 'n periode van inperking met die gevolg dat mense slegs met verlangende oë en hunkerende harte na plaaslike sowel as internasionale toerisme-aantreklikhede kan kyk.
Die gesegde, "'n boer maak 'n plan" is beslis van toepassing op een van Mosselbaai se mees innoverende en voortvarende seuns, Gerrie Pretorius. Pretorius, wat naam gemaak het as sanger, is ook 'n gesoute reisiger en televisieaanbieder.
Hy werk tans aan die agste reeks van Leef Jou Reis vir kykNET en was op pad Indië toe, toe inperking die wêreld tref.
Hy en sy span besluit toe om liewer tuis te bly.
Leef Jou Reis is een van kykNET se gewildste programme. Die suksesresep is gegrond op Pretorius se fyn aanvoeling en snuffelbenadering wat tot gevolg het dat die kyker op plekke kom en dinge kan geniet wat normaalweg nie tydens 'n georganiseerde toer moontlik is nie.
Pretorius het die vervaardigers oortuig om hom (tydens die gedwonge inperking) die geleentheid te gee om op Mosselbaai en in die Hessequa te kom verfilm. As gebore Mosselbaaier, ken hy baie stories en mense wat die verborge juwele rondom die dorp en sy aantreklikhede kon belig.
Fotogalery: 'Leef jou Reis' op Mosselbaai
Met al die nodige permitte in plek het Pretorius en sy kameraman Leon Human Mosselbaai verken. Karakters is gekontak en interessante stories is opgediep en op kamera vasgelê, sonder om enige van die Covid-19-voorsorgmaatreëls te verbreek.
Juwele
Een van die geskiedenisjuweeltjies wat baie inwoners heeltemal onbewus van is, is die kragsentrale op Groot-Brakrivier.
Hierdie 350 KVA hidro-elektriese kragsentrale, wat voor die Tweede Wêreldoorlog in 1924 geopen is, was die Suid-Kaap se eerste kragstasie.
Dit het die Searles se leerlooiery en die dorp van krag voorsien. Groot Brak het dus krag gehad nog voor Mosselbaai en George.
Met die samewerking van die plaaslike munisipaliteit is hierdie kragsentrale, wat in 'n stadium deur kragentoesiaste gerestoureer is, vir die derde keer in 20 jaar en die eerste keer in 15 jaar aangeskakel. Chris Hancke en Richard Gelderbloem van die munisipaliteit het die ou dame se pype en krane voor die tyd nagegaan en versien om haar spesiaal te laat werk sodat Pretorius en Human dit op film kon vaslê.
Rene de Kock, voorsitter van die Groot-Brakrivier-museum en 'n kenner van die dorp se geskiedenis, was ook teenwoordig. As opgeleide ingenieur het hy 'n sagte plekkie vir hierdie ou dame wat bykans vergete langs die rivier staan. Hy het verduidelik dat die sentrale se marmer kontrolebord slegs een van twee marmerborde is wat destyds in die land gebruik is. Die marmer het as isolasie gedien.
Onder groot belangstelling het Gelderbloem die kraan buite die sentrale oopgedraai om die water deur die stelsel te voer. Na 'n paar spanningsvolle oomblikke het die naald begin klim en het al die masjinerie ingeskop.
Kyk 'n video hieronder
Steun aan toerisme
Hierdie insetsel sal net een van vele wees wat deel vorm van die Leef Jou Reis-episode wat vir laat Julie begin Augustus beplan word. Hierdie aksiebelaaide program sluit in van die dorp se top vermaaklikheidskunstenaars, "koffie-kapitaal", wêreldbekende koffiemasjiene, internasionale kunstenaars, waterkaskanades, plaaslike wyn, jenewer en cuisine asook die streek se asemrowende natuurskoon. Die Hessequa-streek (Albertinia tot Heidelberg en Witsand en Stilbaai) sal ook haar mooiste rokkie en juwele ten toon stel en jou aan haar verborge geheime bekendstel.
"Sodra mense weer kan begin reis, moet Mosselbaai en omgewing onmiddellik in hul gedagtes spring en moet hulle hierheen kom om ons kosbare kleinood te kom geniet. Mosselbaai, net soos al die ander dorpe in Suid-Afrika wat sterk op toerisme steun, het hierdie inkomende kapitaal broodnodig. Ek is so bly dat ons 'n klein bydrae kon lewer om Mosselbaai lewendig in mense se gedagtes te hou," het Pretorius aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Loer gerus op Gerrie Pretorius se facebook en by @leefjoureisvriende na interessante brokkies en lusmakertjies.
Gerrie Pretorius in die geselskap van koffie-ghoeroe Aharon Baruch.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'