Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Op 22-jarige ouderdom dans Deveraux Kiewiet oftewel DTrix, die verhoog behoorlik aan die brand. Maar aan sy stil geaardheid, sal jy nooit kon raai dat hy vanjaar se wenner in die Mossel Bay's Got Talent-soektog se danskategorie is nie. Met sy voete plat op die aarde, is hy glad nie windmakerig nie. Dalk kom sy nederigheid daarvandaan dat die titel ook nie net in sy skoot geval het nie. Hy het gewerk daarvoor. Vanjaar, na die derde keer wat hy aan MBGT deelgeneem het, was die titel wenner uiteindelik syne.
Deveraux vertel dat hy op 15-jarige ouderdom besluit het, dans is die ding vir hom.
Hy sê hy is absoluut verlief op alle vorme van dans. Vir hom, lê die inspirasie as danser daarin om 'n boodskap deur middel van sy danstalent oor te dra.
"Dit is vir my 'n ongelooflike ervaring om te kan sien dat mense hou van wat ek doen." As danser probeer hy ook op hoogte van al die jongste en gewildste dansstyle bly.
"Ek voel ek het dit vanjaar verdien om te wen, nadat ek soveel kere ingeskryf het en nié gewen het nie. Elke keer wat ek nie gewen het nie, het ek my les daaruit geleer dat ek nie moet opgee nie."
Deveraux het tydens 'n onlangse optrede by die Mosselbaai Kreatiewe Kultuurassosiasie (MOKKA) se Open Mic-geleentheid gehou in ArtSpace by die Dias Museum, gewys presies hoe afgerond sy passies is.
Hy sê sy deelname aan MBGT was waarlik goeie ervaring vir hom as kunstenaar. "Ek het geleer om meer oop te wees vir nuwe danspassies en om selfs 'n sterker boodskap deur dans oor te dra. Hierdie jong man glo ferm daaraan "dat jy moet doen waarvoor jy lief is".
Kyk 'n video hieronder:
Wat die aanwending van sy prysgeld betref, is sy planne goed gebalanseerd. "Ek beoog om betrokke te raak by 'n dansakademie en ek wil al my kennis oordra aan die jongmense wat opkyk na my om ook dansers te word."
•Lees in die volgende twee weke se uitgawes van die Mossel Bay Advertiser meer oor die wenners van die ope, asook die vokale kategorie, onderskeidelik Crimson Hozay en Shadows.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'