MOSSELBAAI NUUS - Met die ATKV wat sy 90ste bestaansjaar vier, het die ATKV Langsoustak van Mosselbaai vir ekstra vreugde gesorg toe hulle tydens die jaarlikse taktoekennings vir hulle algemene bydrae tot die welstand van die dorp se jeug bekroon is.
Claire du Plessis, die takvoorsitter sê dat die tak hulle bedrywighede bou rondom al vier van die ATKV se fokusareas, naamlik taal, kultuur, gemeenskap en onderwys.
Die tak het in 2013 sy beslag gevind en bestaan tans uit 12 lede. Hul unieke naam, vertel Claire het sy oorsprong in die gemeenskap van Mosselbaai se noue verbintenis met die see.
"Vroeër jare was baie gesinne van die see afhanklik vir hul daaglikse bestaan. Langsous is 'n dis waarvoor baie min nodig is en wat ver gerek kon word. Dit was oorspronklik met viskoppe of 'n heel 'kookvis' soos rooivis, silwervis of baar gemaak waarby uie, aartappels, swartpeper, rissie of knoffel gevoeg is. Die dis is dan met vars brood voorgesit. Daar is deesdae baie variasies, maar langsous is 'n integrale deel van Mosselbaai se koskultuur."
Die toekenning wat die tak ingepalm het is vir hul bydrae tot die onderwys.
"Ons probeer om boektoekennings aan al die skole vir beste presteerders in Afrikaans per graad te gee. Een van ons lede gee naure taal- en leesklasse in ons behoeftige buurte. Ons probeer ook aan die begin van elke jaar om skryfbehoeftes aan behoeftige leeders te skenk. Dit is ook vir ons belangrik om kreatiewe skryfwerk onder die jeug te stimuleer. Ons vra dus jaarliks aan Afrikaanse-opvoeders om hul leerders se kreatiewe skryfwerk vir ons te gee vir publikasie."
Du Plessis, 'n spreker van formaat, rig jongmense in gesprekvoering af. Bo en behalwe hierdie bydrae, was een van die deurslaggewende faktore Josie Domingo se inisiatief om saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens drilpeletons by Diaz en Erika Primêre Skole te stig. Domingo rig ook 'n gemeenskapsorkes vir jongmense af.
Tydens die Covid-19-pandemie, het die tak ook nie net handjies gevou gesit omdat die skole vir lang tye gesluit was nie.
Hulle het hulle gewig ingegooi by 'n weeklikse sopkombuis in samewerking met die Rotariërklub en SANTA. "Die behoefte aan voedselsekerheid is vir ons 'n baie groot saak."
Enige persoon wat graag by die ATKV Langsoustak se bedrywighede wil inskakel, kan Claire du Plessis kontak (079 497 6156).
Die ATKV Langsoustak ontleen hulle naam aan ‘n dis tipies aan Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'