MOSSELBAAI NUUS - Die NG Kerk Hartenbos hou hierdie naweek 'n uithaler Potjiefees met tot 35 verskillende disse om van te kies.
Die potmakers begin Saterdag, 23 September, reeds om 07:00 die vure op die terrein van die NG Kerk Hartenbos stook sodat die lekkerste disse om stiptelik 12:00 voorgesit kan word.
Kom gerus honger, want die porsies kos slegs R10 en 'n mens kan dus uit al die talle potte skep om te besluit watter is die lekkerste.
Vermaak
Van 10:00 af sal Allen Green en sy manne met boeremusiek die gaste vermaak. Kom dus gerus vroegdag reeds en kuier in die hartlike atmosfeer tussen ou en nuwe vriende.
Boonop word met die lekkerste koffie, koeksisters en melktert verseker dat die smaakkliere in afwagting op die lekker potjiekos solank gekielie word. Daar sal ook wyn teen 'n donasie beskikbaar wees.
Die soettand kan ook naderstaan want die ete word afgerond met 'n verskeidenheid van heerlike gebakte poedings.
Kontak Heleen Coetsee (082 45 45 724 of 044 695 0872 of epos by siasheleen2@telkomsa.net) met navrae.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'