MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Afrikaanse Landbousektor werk saam met die regering om die voorsiening van vars en essensiële landbouprodukte in die koronavirus-pandemie te waarborg.
Landbou en voedselproduksie is 'n noodsaaklike diens en plaaslike boere wat hieraan voldoen gaan dus voort met hul daaglikse bedrywighede.
Die waardekettings wat die produkte daagliks voorsien, het die nodige voorsorgmaatreëls in plek om werkers te beskerm en om voorraad deurlopend te skuif. In geval van verdere inperkings sal die oes, prosessering, verspreiding, aflewering en verkope hiervan vrygestel word.
Mosselbaaise suiwelboer, John Robertson sê hulle probeer normaal voortgaan. "Ons het allerhande sekuriteitsmaatreëls in plek soos dat ons personeel hande moet was en ons gee ook aan hulle maskers en voorligting oor Covid-19."
Robertson sê egter dit bly 'n hoë risiko want sy werkers kom van verskeie gebiede in die omgewing. "Ons het sedertdien ons maatreëls wat gewoonlik in plek is verskerp en laat geen verteenwoordigers of smouse op die plaas toe nie, slegs ons personeel."
'Isolasie vir gewasboere nie moontlik'
Die George Herald berig dat gewasboere voor dieselfde uitdaging staan omdat ongeveer 95% van hul werkers tydens oestyd daagliks van omliggende gemeenskappe ingebring moet word.
Volgens Philip Terblanche, voorsitter van die Outeniqualand-boeregenootskap, maak dit, dit moeilik om hulself te isoleer.
"Ons is nog onseker of ons permitte nodig sal hê vir die vervoer van die mense, maar ons doen wat ons kan om higiëniese maatreëls toe te pas.
"Ek het oor drie weke spanne wat moet inkom en ek probeer om elektroniese koorspenne in die hande te kry, maar dit blyk skaars te wees. Omdat ons nie kan isoleer nie, val ons in 'n risikogroep net soos medici."
Agri SA sê die landbousektor sal te midde van die krisis voortgaan om die land te voed. "Saam sal ons dit oorkom."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'