HARTENBOS NUUS - 100 jaar gelede, op 8 Mei, 1925, is Afrikaans as ’n amptelike Suid-Afrikaanse taal erken.
Laerskool Hartenbos het op Donderdag, 8 Mei, dié geleentheid met ’n spesiale dag gevier.
Die personeel en leerders het kreatiewe klere wat ’n idioom in Afrikaans uitbeeld, gedra.
Luan van der Merwe het ‘kop in die wolke’ skool toe gekom, met ’n hoed met wolke wat om sy gesig gehang het.
’n Ander leerder het volgens die idioom ‘wanneer varke vlieg’ aangetrek. Sy hoed het varkies op gehad.
Die leerders het ook elkeen ’n eg Afrikaanse kosblik met bekende lekkernye soos pannekoeke, boereworsrolle en vetkoeke saamgebring.
Afrikaanse disse is ook deur die loop van die dag verkoop.
Hopelik sal hierdie appel nie baie ver van die boom af val nie!
Opvoedkundige inhoud met Afrikaanse geskiedenis is tydens ’n byeenkoms gedeel, insluitende liedjies, video’s en storievertellings.
Elke graad het twee tot drie tradisionele speletjies gekies om op die sportvelde te speel. Daarna het die leerders tydens pouse piekniek gehou.
Almal by die skool het ingespring om van die dag ’n sukses te maak - van die onderwysers tot die leerders het almal ’n rol gespeel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’