HARTENBOS NUUS - Het jy platiekdoppies en ou brilrame wat in die asblik beland of net by die huis rondlê?
Mosselbaai se wyk 10, wat strek tussen Hartenbos en Diasstrand, werk tans aan twee gemeenskapsprojekte wat jou kan help om van dié items ontslae te raak - en vir ’n goeie doel!
“Ons het ’n groot getal inwoners wie se sig verswak het of wat swaksiende is, maar die koste van ’n brilraam weerhou hulle daarvan om oogarts toe te gaan,” verduidelik die betrokkenes.
Hulle vra dus vir ou of ongebruikte brilrame, al is dit daardie leesbril wat jy sommer vinnig by ’n winkel gekoop het.
Van die aflaaipunte hiervoor sluit in: die Hartenbos Spar-sentrum by oogkundige Sonja van Graan, Spec Savers by Hartenbos Seefront, Mark E in die Langeberg Mall of Moss Ink in Voorbaai of Mosselbaai.
Vir die tweede projek sluit wyk 10 by ’n landswye versoek vir plastiekdoppies aan. Met die herwinning en inhandiging daarvan kan jy dalk iemand help om ’n rolstoel te kry.
“Iets wat ons hart aanroer is om deur middel van goed wat weggegooi word vir iemand dit moontlik te maak om beweeglik te wees. Ja, jy moet baie kilogramme se doppies inhandig om een rystoel te kan bekom, maar waar daar ’n wil is, is ’n weg.”
Die eerste aflaaipunt is buite die Hartenbos Spar in die vorm van ’n metaal hart-houer.
Navrae: Sonja van Graan by 082 920 0361.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’