MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die afgelope maand het daar alreeds sowat 50 bedreigde seeskilpaadjies op Mosselbaai se strande uitgespoel.
Dit is 'n jaarlikse gebeurtenis wat plaasvind.
Die skilpaaie broei uit aan die KwaZulu-Natal- en Mosambiekse kus en beweeg dan in die warm Agulhasstroom af. Die stroom maak hier aan die Suidpunt 'n effense opwaartse draai wat dan veroorsaak dat die skilpaadjies in kouer water beland.
Die twee tot drie weke oue diertjies is dan hipotermies, swak en oortrek met eendmossels en seegrasse. Hulle beland op strande waar seevoëls hulle aanval en baie van die wat gered word, het halwe flippertjies. So 'n sklipaadjie se gestel is egter van nature baie sterk en daarom sal hulle kan oorleef.
Dit si meestal die karetskilpaaie (loggerheads), wat hier uitspoel maar daar is ook drie leerrugskilpaaie (leatherbacks) gevind. Hulle is die reuse van die seeskilpadwêreld en is baie skaars en bedreig. Ongelukkig is hulle ook baie moeilik om in aanhouding te stabiliseer.
Waneer die skilpaadjies op strande gevind word, moet hulle nie teruggegooi word in die see nie en ook nie op die strande gelaat word nie.
Tel hulle op en hanteer hulle versigtig totdat hulle in 'n roomysbak met 'n lappie in geplaas kan word. Moenie die eendmossels en grasse verwyder nie.
Hou die skilpaaie droog en warm op 'n stil plek. Kontak die Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) by 072 227 4715 of neem die skilpad na die Dias Museum. Onthou ook dat dit onwettig is om hulle in privaat besit aan te hou. Skilpaaie moet so gou moontlik aangemeld en oorhandig word aan vrywilligers van S.M.A.R.T. of die Dias Museum se personeel.
Kyk 'n video hieronder.
Die skilpaaie word na die Hartenbos-dierehospitaal geneem waar dr Frans de Graaff en sy personeel na hulle omsien en hulle stabiliseer. Vandaar word hulle na of die Two Oceans-akwarium in Kaapstad of Bayworld in Port Elizabeth, gestuur. Wanneer hulle dan sterk genoeg is word hulle weer in die Agulhasstroom vrygelaat.
Verlede Vrydag is daar 29 seeskilpaadjies na Two Oceans gestuur. Gedurende die week is daar reeds weer sowat 15 opgetel, hoofsaaklik op Boggomsbaai en Gouritzmond se strande. Hierdie strandings kan nog vir die volgende drie weke aanhou. Kontak S.M.A.R.T. indien jy na Kaapstad reis en bereid is om te help met die vervoer van die skilpaadjies.
Indien net een van hierdie uiters bedreigde diertjies gered kan word, is dit die moeite werd.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'