MOSSELBAAI NUUS - Van die navrae wat ICOSA aangeroer het tydens 'n onlangse telefoniese gesprek met die Mossel Bay Advertiser aangaande 'n behuisingskwessie, handel oor die motorsportontwikkeling in Mossdustria en die beweerde verkoop van 'n stuk grond in Highway Park.
Hierdie kwessies is ook vermeld in 'n dokument wat ICOSA op 16 Junie aan die Mosselbaai-munisipaliteit oorhandig het.
'Meer grond'
Dawid Kamfer, ICOSA-raadslid en gemeenskapsleier het in 'n navraag teenoor die Advertiser genoem dat "meer grond" vir die motorsportontwikkeling toegeken is as wat die aanvanklike versoek was.
In reaksie hierop, het raadsheer Dirk Kotzé, ook DA-kiesafdelingsvoorsitter by navraag gesê dat dit onderduidelik is na watter sogenaamde "ekstra grond" verwys word.
"Die beraamde uitlegplanne is telkens tydens die openbare deelnameprosesse met die gemeenskap en belangstellende motorsportkodes bespreek. Tydens die afgelope raadsvergadering het die raad kennis geneem van die vordering met die beoogde ontwikkeling in Mossdustria. Daar is voorgestel dat die ontwikkeling in fases geïmplementeer word en dat dié fases na gelang die behoefte aan spesifieke grondgebruike en grondgroottes binne die verskillende fases sal voldoen.
"Die fasering kan dus verander om in die eiendomsbehoeftes op enige punt in die groter ontwikkeling te voorsien. Dit sal altyd onderhewig wees daaraan dat die projek voorsiening maak vir 'n plaaslike motorsportfasiliteit, dat die inkomste wat verkry word uit die verkoop van die erwe, omsoom word en in 'n kapitaalvervangingsreserwe, oftewel Capital Replacement Reserve Fund (CRR) genaamd die Mossdustria Capital Replacement Fund gehou word. Die fases kan slegs gewysig word sou dit steeds 'n lewensvatbare finansiële model vir die ontwikkeling tot gevolg hê."
Kotzé het uitgebrei dat die ongeveer 90 hektaar uit verskillende gebruiksareas bestaan.
Dit sluit in die nywerheidsones, toekomstige beskikbare nywerheidsontwikkeling, 'n bewaringsgebied, 'n motorsportarena, 'n oop plofsone, 'n toekomstige verdere ontwikkelingsgeleentheid vir motorsport, teeroppervlaktes en gruisoppervlakke wat vir 'n verskeidenheid motorsport ingerig sal wees.
"In die eerste fase sal die erwe in die nywerheidsone opgemeet, onderverdeel word en teen munisipale koste van sommige dienste voorsien word. Hierdie erwe sal per openbare tender verkoop word soos voorgeskryf in die relevante regulasies. Daarna sal die oorblywende erwe op 'n eerste-aanbodbasis verkoop word. Die inkomste uit die verkoop van hierdie erwe word toegewys aan 'n aparte kapitaalvervangingsreserwe (CRR), wat uitsluitlik gebruik sal word vir die verdere motorsportontwikkeling. Die erwe in die nywerheidsone word op koste van die munisipaliteit opgemeet en onderverdeel, met munisipale dienste gelewer word."
Die ontwikkeling is ‘n munisipale inisiatief om motorsport in Mosselbaai te vestig.
Grond nie opgeveil
Kamfer het ook beweer dat daar ongerymdhede was betrekking tot 'n stuk grond wat tydens 'n openbare veiling, wat volgens hom verlede jaar tydens vlak 5 van die grendeltydperk sou plaasgvind het, verkoop is. Die gewraakte stuk grond is op die hoek van Mayixhale- en Mooneystrate. Hy het kapsie daarteen gemaak omdat 'n "openbare veiling" dus 'n byeenkoms sou wees, terwyl byeenkomste verbied was.
In reaksie op die navraag het Kotzé gesê dat die erwe ter sprake per openbare tender en nie op ‘n openbare veiling nie, verkoop is nie.
"Die suksesvolle tenderaars het egter hul aanbod onttrek en die verkoop van die erwe is dus nie gefinaliseer nie. Die erwe is dus nog in munisipale besit en is dus nooit verkoop nie."
Kotzé het bevestig dat 'n item om die erwe weer op ‘n openbare tender uit te sit, gevolglik voor die raad vir oorweging dien.
"Dit is egter belangrik om daarop te let dat, met die verkoop van onder meer erwe, ‘n mededingende proses gevolg moet word ingevolge die bate-oordragregulasies oftewel asset transfer regulations. Die beginsel ter sprake is dat die hoogste moontlike opbrengs op die verkoop van die bate beding moet word."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'