Dit is die mening van die bevelvoerder van die SAPD Da Gamaskop Sone, brig Gerhard Jantjies, wat bygevoeg het dat hy, lt-kol Raymond Claassen en kapt Johan Bothma net die hoogste lof het vir die integriteit en toewyding van die personeel verbonde aan die KwaNonqaba polisiestasie.
"Die ratio waarteen KwaNonqaba se lede sake suksesvol ondersoek en voor die hof bring, is indrukwekkend, so ook is die sukseskoers van skuldigbevindings en opsporings prysenswaardig," het brig Jantjies bygevoeg.
Nuwe polisiestasie
Brig Jantjies het bygevoeg dat daar hard gewerk word aan die akkommodasiepro-bleme wat tans by KwaNonqaba polisiestasie ondervind word. As tussentydse maatreël is tydelike kantore opgerig en word net gewag op die installering van kragtoevoer alvorens dit betrek kan word. Met die nuwe finansiële jaar op hande, word begroot vir nuwe meublement en na verwagting, sal die kantore na die ver-kiesing op 7 Mei in gebruik geneem kan word.
KwaNonqaba is op die nasionale prioriteitslys opgeskuif van die 16de na vyfde plek, en na verwagting sal daar teen middel 2015 met die bou van 'n nuwe polisiekantoor, soortgelyk aan die fasiliteite van Da Gamaskop polisie-stasie, begin kan word.
Esprit de Corps
Die samehorigheid en goeie verhoudinge tussen die uniformlede en ondersoekbeamp-tes verbonde aan die KwaNonqaba polisiestasie, veral in ag genome die feit dat hulle aangemelde ernstige misdade aansienlik meer is, onderskei hierdie stasie van die res van Mosselbaai se polisiegemeenskap, veral ook wat skuldigbevindings betref.
"Hul sukses kan kan deels toegeskryf word aan die bevelvoerder van die ondersoekbeamptes, kapt Christo Serfontein, wat persoonlik deelneem aan opsporingsoperasies en die werk nie aan ondergeskiktes oorlaat nie," sê brig Jantjies.
Hy het die res van die KwaNonqaba polisie-stasie se bevelstruktuur eweneens met hul betrokkenheid en leierskap geluk gewens.
"Die personeel se lojaliteit en die erns waarmee hulle hul werk benader, onderskei hulle van talle ander. Ek kan nie anders as om die lede te komplimenteer op hul toewyding, groepskohesie en doelgerigtheid nie," aldus brig Jantjies.
Werksomstandighede
Die KwaNonqaba polisie bedien 'n area vanaf Kanon, Vleesbaai en Boggomsbaai, insluitend Danabaai en KwaNonqaba, Herbertsdale en Buisplaas en al die plase in die landelike area. Die gemeenskap waarvoor hulle verantwoordelik is, sluit van die hoogs opgeleide, gesofistikeerde inwoners tot plaaswerkers in, en bied vele uitdagings met die talle uitlanders en taalverskille.
"Desnieteenstaande behou hierdie polisielede perspektief, en stel hulle as span die belange van die gemeenskap voorop."
Brig Jantjies het bygevoeg dat berading geredelik vir lede beskikbaar is en deur die bevelskader aangemoedig word.
Uitnodiging
Brig Jantjies nooi die gemeenskap om van die Mossel Bay Advertiser se SMS-lyn op 072 380 1549 gebruik te maak.
"Ek nooi die gemeenskap om van die Advertiser se SMS-lyn gebruik te maak om hul terugvoer deur te gee. Sê vir ons as julle 'n vergadering wil belê, deel met ons die kwessies waaroor julle met die SAPD wil praat," aldus brig Jantjies.

Polisielede by die KwaNonqaba Polisiestasie is aangewese op tydelike strukture as kantore, maar na verwagting sal met bouwerk aan 'n nuwe polisiestasie in die nuwe boekjaar begin word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'