MOSSELBAAI NUUS - Lede van die KwaNonqaba-polisie se ondersoekeenheid het op Maandag, 25 September braaidag gevier deur die verfkwasse op te neem en self die algemene kantoor blinknuut opgeknap.
Die gemeenskap het verf, verftoebehore, deure en selfs kantoormeubels geskenk om die eenheid se werksomstandighede te verbeter.
Die bevelstruktuur van die KwaNonqaba-polisie en veral die ondersoekeenheid se lede bedank almal vir hul bydraes, en hul bereidwilligheid om betrokke te raak by die polisiestasie wat tot diens van die grootste area en digbevolkste deel van die groter Mosselbaai gemeenskap is.
Die benarde omstandighede waaronder veral die ondersoekbeamptes, maar ook die res van die polisielede van die KwaNonqaba-polisie moet werk is vantevore by herhaling in berigte in die Mossel Bay Advertiser toegelig.
Pogings deur selfs die Mosselbaai munisipaliteit om die departement openbare werke, wat kontraktueel vir die instandhouding van die fasiliteite verantwoordelik is, tot verantwoording te roep, het op weinig meer as leë beloftes uitgeloop.
In meer as ten minste die afgelope sewe jaar het die departement geen instandhouding aan die fasiliteite van die KwaNonqaba-polisiekantore gedoen nie.
Die bevelvoerende offisier van die KwaNonqaba-polisie se ondersoekeenheid, kapt Ashley Michaels bedank Chris Horn van New Look Kitchens & Cupboards wie se span nie net 'n nuwe deur vir die enigste toilet in die speurders se kantore verskaf het nie, maar boonop 'n kosyn spesiaal daarvoor gemaak het.
Die polisie het wel tydelike kantore opgerig op die perseel wat van die Mosselbaai munisipaliteit gehuur word vir gebruik deur onder meer die ondersoekeenheid.
Lede van die speurafdeling het die afgelope maand egter eers toegang tot telefone in hierdie tydelike kantore gekry.
Vantevore moes hulle óf van hul selfone, óf die telefoon in die ondersoekeenheid se algemene kantoor gebruik.
Dirkie van Niekerk, eienaar van die N2 Engen Eenstop Wimpy en sy span wat verversings aan die KwaNonqaba-polisie se ondersoekeenheid geskenk het sodat hulle iets te ete kon nuttig terwyl hulle hul nuwe kantore opknap.
Politieke leiers soos die Wes-Kaapse provinsiale LUR vir gemeenskapsveiligheid, minister Dan Plato, het jaar na jaar besoeke by die polisiestasie afgelê en het, hoewel hy bloot 'n oorsigrol oor die werksaamhede van die polise vervul, onderneem om die omstandighede by die polisiekantoor met die polisie se generale staf op te neem.
Geen opknappings het uit enige van hierdie gesprekke gevolg nie.
Intussen loop die polisiestasie deur onder misdadigers en is onlangs nog weer berig oor 'n skootrekenaar wat uit een van die tydelike kantore gesteel is nadat onregmatige toegang tot die perseel deur een van die vele gate in die heining om die fasiliteit bekom is.
Die Mosselbaai munisipaliteit het wel in die onlangse verlede 'n nuwe hek by die hoof toegang tot die perseel, asook 'n pallisade heining om die grootste deel van die terrein opgerig.
Verskeie versteekte vaardighede het vinnig geblyk toe ao Hennie Bylsma kabels vervang, behoorlik beveilig het en netjies gemaak is.
Tot nog toe is nie gevorder met planne om 'n nuwe polisiestasie vir die KwaNonqaba-polisie 'n polisieprioriteit te maak nie.
Die KwaNonqaba-polisie bedien nie alleen die grootste geografiese area, wat dorpe soos Vleesbaai en Buffelsbaai, Buisplaas, Herbertsdale en die woongebiede van Danabaai, Aslapark en KwaNonqaba insluit nie, maar is ook verantwoordelik vir die grootste gros van die groter Mosselbaai se bevolking se veiligheid.
In teenstelling is die ander polisiekantore in die Da Gamaskop-polisiesone in die laaste paar jaar teen miljoene Rand opgegradeer.
Speurders en beamptes verbonde aan die KwaNonqaba-ondersoekeenheid het self ingespring en met die hulp en bystand van die gemeenskap hul kantore opgeknap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'