MOSSELBAAI NUUS - Lede van die gemeenskap van Sonskynvallei, 'n 42- asook 'n 24-jarige man en 'n 46-jairge vrou is gedurende die Paasnaweek in hegtenis geneem nadat hulle lede van die polisie, wat op 'n klagte van huishoudelike geweld in die woonbuurt reageer het, toegetakel het.
Die voorval het op Maandag, 22 April om 11:30 by 'n woning in Lover's Lane plaasgevind.
Die polisielede het 'n verdagte in hegtenis geneem op 'n klagte van gesinsgeweld en aanranding waartydens hy twee vroue en 'n man met 'n ysterpyp geslaan het.
Tydens die beskuldigde se inhegtenisneming, het sy familie en van sy vriende in 'n poging om hom te bevry, die polisielede aangerand. Van die polisielede betrokke het beserings opgedoen waarvoor hulle mediese behandeling moes kry.
'n Vroue-offisier het kneuswonde tydens die voorval opgedoen. Tydens die voorval, het van die inwoners die binnekant van die woning waar die insident plaasgevind het, asook van die meublement verwoes. Verskeie deure is ook afgebreek.
Die polisie moes versterkings ontbied en het daarin geslaag om twee mans en een vroue in hegtenis te neem.
Buiten gesinsgeweld, sal die verdagtes ook aangekla word van aanranding op 'n polisiebeampte, aanranding met die doel om ernstig te beseer, verhindering van 'n polisiebeampte in die uitvoering van sy of haar pligte en opsetlike saakbeskadiging.
Die saak word ondersoek deur ao Deon Louw van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Die stasiebevelvoerder, kol Mark Hartzenberg het sy kommer en misnoeë oor die voorval uitgespreek.
"Die klagtes van aanranding op die polisiebeamptes word in 'n baie ernstige lig beskou.
"Oortreders moet verwag dat daar in die toekoms streng teen hulle opgetree sal word," het kapt Wollie Fourie, kommunikasiebeampte van die Da Gamaskop-polisie gesê.