MOSSELBAAI NUUS - Om in die hedendaagse ekonomiese klimaat 'n sakeonderneming se 100ste verjaarsdag te kan vier is besonders.
Maar om in die proses te ontdek dat die geskiedkundige gebou waarin jou kantoor is al die jare 'n verrassende geheim bewaar het, is 'n bonus. Veral as dit blyk dat dit deel van 'n lankverlore skat kan wees.
"Ons personeel het baie uitgebrei en ons was genoop om opnuut oor kantoorspasie te besin," verduidelik Basson Piek, bedryfshoof van Rauch Gertenbach Prokureurs, wat op 1 Maart 100 jaar oud geword het.
Tydens 'n onlangse voorbereiding vir konstruksie by Kerkstraat 10, die firma se kantore wat in 1857 gebou is, is daar op 'n besonderse vonds afgekom toe ou verweerde banksakke onder 'n vloerplank ontdek is. In van die sakke, is munte gevind.
Daar word van betroubare bronne verneem dat dit Kruger-ponde en halfponde blyk te wees wat dateer uit die tydperk tussen 1893 en 1900. Dié ponde is soortgelyk aan die vergete munte wat in Februarie 2021 in 'n Switserse kluis gevind is.
Hierdie munte, altesame 910, is deur die Suid-Afrikaanse Munt bekom en opgeveil.
'n Bekende nuusagentskap het ná hierdie ontdekking berig dat iemand glo in die tyd van die Anglo-Boereoorlog met 677 Krugerponde en 233 Kruger-halfponde na Nederland gevlug het om dié skat te bewaar.
Net voor die Tweede Wêreldoorlog, is die munte glo na Switserland geskuif voor die Nazi's hulle hande daarop kon kry.
Raaisel
Hoe die enkele munte in Rauch Gertenbach se besit beland het, is tans 'n raaisel. "Die vermoede bestaan dat die laaste eienaars van Kerkstraat 10, toe dit nog aktief as 'n handelsperseel gebruik is, naamlik Bruns, Matare & Kie, dalk die munte kon bekom het.
"Vanweë die vyandigheid teenoor Duitsland gedurende die Eerste Wêreldoorlog, is hulle geïnterneer en hulle besittings, beslag op gelê. Die vermoede bestaan dat hulle die munte in hulle haas hier net onder die vloerplank weggesteek het om later te kom opeis. Maar dit het klaarblyklik toe nooit gebeur nie," verduidelik Piek.
Terwyl vrae oor die herkoms van die munte bestaan, is die groter dilemma wat die firma nou verder te doen staan. Met twee Krugers op die personeel, word bespiegel of die skat hulle sou toekom.
Wat sake verder kompliseer, is dat Attie Gerber, plaaslike inwoner en oud-professor in fotografie wat 'n dokumentêre kortfilm oor Kerkstraat 10 gemaak het, ook moontlik daarop aanspraak kan maak.
Gerber is getroud met Anria (Anna Maria), 'n agter-agterkleinkind van Paul Kruger se dogter Anna Maria Eloff (gebore Kruger).
Piek wou geen verdere kommentaar lewer nie en sê dat die firma eers ná Gekkedag (April Fool's Day) sal besluit oor dié munte se lot.
Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'