MOSSELBAAI NUUS - Jonou Arts het op 21 Desember die hartroerende toeneelstuk, Krismis met 'n Kinkel in die Dias Museum opgevoer.
Bernard (Ben) October, president van Jonou Arts, was die outeur en regisseur. Noël Philander die besturende direkteur en Henry Fredericks die organisasie-ontwikkelaar het voor en tydens die produksie baie hard gewerk om die sukses van die toneelstuk te verseker.
Shannon Kiewiet, Jack Fillis en Ashley Josias het die klank behartig.
Die veelsydige Jack (Daniëls) was ook een van die akteurs en het ook pragtig gesing! Die ander briljante akteurs was: Francis Leibrandt (die dame met die pragtigste stem), asook die talentvolle Michelle Groenewald, Justin Cupido, Omega Leibrandt, Zane, Zack en Venus Briesies, Clive Kiewiet, Kyle Fortuin en die ervare Faizel Porter. Faizel het baie jare se teaterondervinding en het weer eens sy merk gemaak op die verhoog.
Verskeie entoesiastiese en ondersteunende familielede en vriende van die komitee en akteurs was in die gehoor. Die atmosfeer was baie spesiaal.
Mense van alle ouderdomme en kulture was welkom en hulle het dit terdeë geniet. Almal is geakkommodeer, ook mense met fisiese en geestelike uitdagings.
Ten spyte van die feit dat die storie 'n hartseer maar realistiese "kinkel" ingesluit het, was daar ook elke nou en dan 'n bietjie oulike humor! Die toneelstuk het met 'n baie positiewe hoogtepunt geëindig.
Die jeugdige Kyle Fortuin ('n uitstekende spreker) het die gehoor baie beïndruk toe hy spontaan 'n stukkie van sy lewensverhaal gedeel het na die toneelstuk en hy het die jongmense aangemoedig om die beste van hulle lewens te maak.
Die geliefde Oswald du Plessis het 'n video geneem van die toneelstuk.
Na die toneel het die pragtige en dinamiese Claire du Plessis van die Langsoustak van die ATKV verskeie pryse oorhandig.
Jonou Arts is in bekwame hande en het baie potensiaal. Volgens Amanda Human van die Dias Museum hoop hulle dat hierdie produksie weer aan die einde van 2023 opgevoer sal word. "Ons kan heelhartig aanbeveel dat u dit die volgende keer bywoon! Die plan is dat Jonou Arts en die Dias Museum meer dikwels in die toekoms sal saamwerk."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'