Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Icosa se nasionale woordvoerder, Dawid Kamfer, vra vir 'n ondersoek na die besluit van die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, om die voedingskema by skole voort te sit te midde van die grendeltydperk.
Kamfer het Donderdag 'n navraag vir 'n ondersoek by die polisie in Mosselbaai ingedien. "Ons wil hê hulle moet kyk of die minister die wet oortree het," het hy gesê. "Dit is net die Wes-Kaap wat die voedingskema nou volg, en nêrens was daar 'n aankondiging oor 'n aanpassing van die wet nie."
Hy is ook van voorneme om 'n skrywe aan die nasionale minster van onderwys, Angie Motshekga, en president Cyril Ramaphosa te rig.
Die voedingskema by skole is op versoek van Schäfer hervat om behoeftige kinders en ouers tydens hierdie tydperk van algehele sluiting, of grendeltyd, by te staan.
In 'n skrywe aan Kamfer verlede week, het Schäfer gevra vir sy ondersteuning in 'n moeilike tyd.
Sy het glo baie klagtes van mense ontvang aangaande kinders wat honger ly, omdat hulle nie meer kos by die skole ontvang nie. Sy het Kamfer verseker dit is nie die "gewone" voedingskema nie.
"Dit sal goed bestuur moet word sodat mense social distancing praktiseer, sodat die kinders en die mense wat die kos maak, veilig kan wees. Ons sal die kinders vra om hulle eie blikkies saam te neem, sodat hulle die kos huis toe kan neem.
Ons het gesprekke met die polisie gehou vir addisionele veiligheid. Daar sal min onderwysers betrokke wees, maar die skoolhoof moet die reëlings tref. Natuurlik sal alles gedoen word om al die betrokke mense veilig te hou," het sy gesê.
In haar brief het Schäfer Kamfer bedank en aangemoedig dat sy organisasie hulp kan verleen wat die voedingskema betref.
Kyk 'n video hieronder:
Verdere kommer
Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), 'n vakbond vir onderwysers, deel Kamfer se kommer. In 'n mediaverklaring wat verlede week uitgereik is, word die voedingskema as 'n ondermyning van die president se pogings om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan, bestempel.
Die voorsitter van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, het ook verlede Woensdag haar kommer in 'n mediaverklaring uitgedruk en gesê sy is bekommerd oor berigte oor die voortsetting van die nasionale voedingskema by skole. Sy het gesê dat sy ook oproepe van die publiek ontvang het wat hul kommer hieroor uitspreek.
Mbinqo-Gigaba het gesê sy gaan 'n versoek aan die nasionale minster van onderwys, Angie Motshekga, rig vir verdere inligting oor hierdie afwyking van die ooreengekome Covid-19-plan, rakende die voedingskema. "Ons kan nie vir mense sê om veilig tuis te bly, en hulle terselfdertyd aanmoedig om kos by die skool te gaan haal nie," het Mbinqo-Gigaba gesê.
Saak geopen
Volgens Kamfer is Icosa nie teen die feit dat die kinders kos ontvang nie, maar die manier waarop dit nou geskied is nie korrek nie, het hy gesê. "Hulle kan die kos by die huise aflaai, daar sal minder kontak wees. Die skool is gesluit, niemand is veronderstel om by die skool te wees nie. Ouers en onderwysers word blootgestel aan boetes en tronkstraf. Niemand is veronderstel om op die straat te wees nie."
Garden Route Primary het op Maandag, 14 April leerders van hul skool en verskeie ander skole kos gegee soos deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement voorgeskryf is. Die volgende voedingsdag is op Vrydag, 17 April.
"Daar was verlede week net 'n navraag gedoen wat moet ondersoek word, nou is daar amptelik 'n klag oopgemaak," het Kamfer Maandag, 13 April aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
‘n Onderwyser hou toesig om seker te maak dat leerders hulle hande deeglik was.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'