Update Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Lede van die gemeenskap het vanaand, 3 April op die vooraand van Paassondag ‘n kranslegging gedoen op die hoek van John Brown- en Marlinstrate in Uitbreiding 13 waar twee broers op Maandag, 29 Maart deur ongeveer 20 gewapende jeudiges aangeval is.
Die erg beseerde 27-jarige Rich Leigh (Ricky) Groenewald het na die aanval in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Die motief vir die aanval blyk ‘n daad van weerwraak te wees. Sy 35-jarige broer wat ook tydens die aanval beseer is, is vandag uit die hospitaal, het ‘n kennis van die familie by navraag aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
Die Groenewald-broers is Maandag, 29 Maart omstreeks 15:00 deur 20 jeugdiges, gewapen met kapmesse aangeval. Die jeugdiges is volgens inligting van die JCC-woongebied afkomstig en die vermoede bestaan dat van hulle nog skoolgaande is.
Kyk 'n video hieronder:
Die waarnemende uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Dirk Kotzé het die aanval skerp veroordeel.
“Mosselbaai durf nie dit duld dat jongmense ander van hul vryhede of selfs hul lewens ontneem nie. Elke individu, ongeag waar die persoon woon, behoort met vrymoedigheid en veilig in die strate van ons mooi dorp te kan rondbeweeg, sonder enige vrees vir geweldadige en misdadige optrede.”
“Dit is kommerwekkend dat 'n enkelouer se seuns so erg aangerand is omdat 'n groep geweldenaars - boonop volgens bewering jeugdiges – skynbaar vergelding gesoek het. Dit is onaanvaarbaar dat jongmense, sommige nog skoolgaande, ander met gevaarlike wapens toetakel en ernstig beseer.”
Daar word vermoed dat die groepe jeugdiges wat vir die aanval op die Groenewald-broers en moord op Rich-Leigh verantwoordelik is, ook by ander misdadige voorvalle in Uitbreiding 13 betrokke is.
“Beide ek, die wyksraadslid, Raadsdame Rosina Ruiters en voorsitter van die plaaslike buurtwaggroep, Faizel Porter, doen 'n vriendelike, dog dringende beroep op ons gemeenskap om te help om misdadigheid hok te slaan. Die geweldenaars het ouers, verantwoordelike volwassenes wat leiding behoort te neem om hul kinders met die nodige respek vir ander se lewe en eiendom op te voed.”
“Mosselbaai het onlangs 'n veiligheidsberaad gehou waar bekendgemaak is dat die munisipaliteit baie nouer met die veiligheidsgemeenskap gaan saamwerk om misdadigheid in die groter Mosselbaai hok te slaan.”
Sover bekend, is niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Enige persoon met inligting word versoek om kapt Jannie Pio (0 79 893 9934) te kontak.
Lede van die gemeenskap het ‘n kranslegging gedoen waar twee broers deur ongeveer 20 gewapende jeudiges aangeval is.
Vorige artikel: Brutal attack claims 27-year-old
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'