Tydens die oorhandigingseremonie op Vrydag, 8 November, het die verskaffers die nuwe brandweerwa aan die burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsdienste, mnr Petru Terblanche, en die direkteur van gemeenskapsdienste, mnr Colin Puren, en die Hoof van Mosselbaai Brandweer, mnr Joseph Johnston, oorhandig.
Mnr Terblanche het erken dat een van sy jongmens drome was om 'n brandweerman te wees. Toe hy agter die stuur van die nuwe brandweerwa inskuif, het hy nostalgies aan daardie goeie ou dae gedink.
"Wat is die prys van 'n lewe?" het Raadslid Terblanche gevra toe hy verwys het na die R1.5m wat die brandweerwa gekos het. "Brandbestryders is in 'n edel beroep, hulle is altyd die eerste om uitgeroep te word wanneer probleme opduik, nie altyd eers net vir brande nie. Hoewel die munisipaliteit belê het in die nuwe brandweerwa, sou ek eerder wou sien dat dit nooit gebruik word nie, want dit sou beteken dat daar nie brande of nood in ons gemeenskap was waarvoor dit aangewend moes word nie. Die brandweerwa is ook 'n belegging in ons brandbestryders se veiligheid."
Raadslid Terblanche het die geleentheid gebruik om ook al die brandbetryders vir hul onbaatsugtige diens aan die Mosselbaai gemeenskap te bedank en elkeen 'n goeie, rustige feestyd toegewens.
Die nuwe brandweerwa is toegerus met 'n watertenk van 5 000 liter en 'n verdere brandweerskuim-tenk van 250 liter, en kan 3 800 liter water per minuut teen 10 bar, of 450 liter per minuut teen 27 bar spuit. Die 4x4 vermoë maak dit ideaal om brande in landelike areas en informele nedersettings, asook veldbrande te blus. Die vermoë om skuim te spuit is veral nuttig wanneer buitebandbrande geblus moet word.
Die nuwe brandweerwa se ontwerp vergestalt die jongste en beste ingenieursvernuf.
Die jongste toevoeging bring die totale aantal noodvoertuie waaroor Mosselbaai beskik op 11, waarvan een op Groot-Brakrivier gebruik word.

Mosselbaai se Brandweerdiens is 'n splinternuwe brandweerwa ryker, en hierdie bielie is doelgemaak om oor die moeilikste terrein te beweeg. Raadslid Terblanche (in die stuurkajuit) het gebieg dat dit 'n jongmensdroom was om 'n brandweerman te word. Foto: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai | Tuinroete nuus'