So sê 'n inwoner van Thembanistraat, KwaNonqaba, na aanleiding van vermeende kragstelery vanuit 'n kragverdelerkas wat op sy erf staan.
Volgens die man, wat verkies om anoniem te bly, word daar reeds 'n geruime tyd krag aangelê vanaf hierdie eenheid na 'n informele woongebied verder af in die straat.
Hier word glo deur die loop van die dag van 'n groot verskeidenheid elektriese toestelle gebruik gemaak, soos hoekslypers, klanksisteme en dies meer.
"Dis moeilik om te sê presies hoeveel gesinne van krag voorsien word, maar saans brand daar elektriese ligte by elke woninkie. Wanneer daar 'n kortsluiting kom, draf iemand vinnig op na die kragboks toe om dit weer aan te skakel," vertel die man.
Hy sê ook dat hy en nog 'n bekommerde buurman verskeie kere die vermeende kragdiewe voor stok probeer kry het, maar dat hulle geensins agslaan op vermanings nie.
"My kinders is klein en ek kan hulle nie verhoed om die wêreld om hulle te verken nie. Hoe lank voor daar 'n tragedie iemand tref? Sal hulle dan leer?"
By nadere ondersoek deur die Mossel Bay Home Ads News, is daar inderdaad 'n wit elek-triese koord gevind wat aangelê is tot teenaan die informele woongebied, waar dit verder vertak. Die kabel is oppervlakkig versteek en met droë gras toegegooi om dit te kamoefleer.
By navraag aan die Mosselbaai Munisipaliteit is bevind dat daar tydens 'n spesiale optrede op 22 Mei, in samewerking met die SAPD KwaNonqaba, by verskeie informele woongebiede aangedoen is waar inwoners onwettig met die elektriese netwerk verbind was. Volgens inligting, is 17 onwettige konneksies verwyder, wat op hulle beurt aan minstens vyf ander huis-houdings elektrisiteit verskaf het.
In totaal is daar tussen 85 en 90 onwettige elektriese konneksies verwyder in areas gekoppel aan Tembelihle-, Mfuleni- en Sijajistraat.
'n Saak van elektrisiteitsdiefstal is aanhangig gemaak by die SAPD KwaNonqaba.
"Dit is onwettig om met munisipale kraginstallasies te peuter, en dit is ook uiters gevaarlik vir onopgeleide persone wat dit doen. Diegene wat hulself hieraan skuldig maak, kan ook ander lewens as net hul eie in gevaar stel.
"Die munisipaliteit moet die krag van Eskom aankoop, en enige diefstal van krag is dus tot die nadeel van alle belastingbetalers en verbruikers van munisipale dienste, aangesien dit tot tariefverhogings kan lei," het die munisipale woorvoerder, Harry Hill, by navraag gesê.
Die wit kabel waarvandaan onwettige elektrisiteit aangelê word vanuit hierdie kragverdelerkas in Thembanistraat, KwaNonqaba is duidelik sigbaar, met die informele woongebied wat daardeur bedien word in die agtergrond. Foto: Cornelle Carstens
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'