MOSSELBAAI NUUS - Juwele ter waarde van R109 000 is uit 'n woning in Tuscany Park gesteel.
Die juwele wat na bewering deur 'n huiswerker gesteel is, is vir R2 000 verkwansel waarna die vrou Donderdag, 3 Desember deur die Da Gamaskop-polisie in hegtenis geneem is.
Sy het op Vrydag, 4 Desember op 'n klag van diefstal in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Die juwele, volgens beskrywing, is baie uniek en die eienaars daarvan wil dit graag terughê. Dit sluit 'n Vrymesselaarsring, 'n goue horlosie en bypassende ring met 'n slangontwerp, asook 'n goue halssnoer en bypassende armband in.
Enige inligting wat daartoe kan lei dat die juwele opgespoor word, sal beloon word. Persone met inligting ten opsigte van die juwele, kan ao A Stokes van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling kontak (044 606 2200).
Hierdie halssnoer en 'n bypassende armband is ook gesteel.
Hierdie slanghorlosie, asook 'n bypassende armband is gesteel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'