MOSSELBAAI NUUS - ‘n Apteek op Mosselbaai het die afgelope paar dae reeds sewe produkte vir kopluis-behandeling verkoop.
‘n Personeellid by die apteek het aan die Mossel Bay Advertiser gesê hoewel die voorraad vir ‘n geruime tyd tydens die inperking op die rak bly staan het, is etlike produkte wel onlangs verkoop.
Die Advertiser het verskeie apteke op Mosselbaai gebel om uit te vind of hulle dieselfde verskynsel ondervind het. Hoewel die meeste apteke wel ook voorraad verkoop het, was die verkope glo nie meer as gewoonlik nie.
Alle ouers ken al die briefie wat van die skool af terugkom: “Ouers, kyk asseblief vir kopluise!”
Die blote gedagte laat enigeen met ‘n kriewel in die kop, maar kopluise is algemeen en kan maklik behandel word. Kopluise is iets wat elke mens kan tref, en die luis onderskei, nes die Covid-19 virus, nie tussen ras, haarkleur, of higiëne nie. Kopluise hou nie verband met swak higiëne nie, inteendeel, meen kenners die luise verkies skoon hare. Die luise kan ook nie spring nie, en word slegs oorgedra deur fisiese kontak.
Daar is ‘n groot verskeidenheid produkte op die mark om van die ongewensde besoekers ontslae te raak. Dit is ook nodig om beddegoed met warm water te was en haarborsels te behandel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'