MOSSELBAAI NUUS - Hartenbos Heuwels het onlangs tydens beurtkrag onder koperdiewe deurgeloop.
Die eerste voorval van diefstal uit 'n inwoner se erf is op Dinsdag, 19 April, kort nadat beurtkrag begin het, aangemeld.
Voorsitter van die Hartenbos Heuwels-gemeenskapsveiligheidsforum, Philip Mattheus sê huisalarms het kort ná 20:00 begin afgaan.
Koperdiewe het toegeslaan op die een na die ander huis en koperpype, asook krane gesteel. Minstens 12 huise het deurgeloop. Volgens Mattheus is die eerste voorval by Besembosstraat aangemeld. Kort daarna het diewe Saffraanstraat, Kinderbessiestraat, Essenhoutstraat, Rooielsstraat en Geelhoutlaan geteiken.
Die diewe het bloot oor heinings in erwe gespring en die krane en koperpype gesteel. Mattheus versoek inwoners om bedag te wees en ligte waar moontlik te probeer aanhou.
"Wees bedag op verdagte bewegings in die strate en meld dit dadelik aan."
Mattheus moedig inwoners aan om sulke voorvalle by die polisie aan te meld.
"Dit pla ons dat baie van die huiseienaars nie die moeite doen om sake by die polisie aanhangig te maak nie."
Inwoners kan die polisie kontak by 044 606 2207/8 of 082 379 2449.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'