MOSSELBAAI NUUS - Omgewingskenners is baie bekommerd oor die Euwallacea fornicatus (Polyphagous Shot Hole Borer oftewel stompkopkewer), wat 'n wesenlike bedreiging vir inheemse bome in Suid-Afrika inhou.
Dit is in 2017 in KwaZulu-Natal en sedertdien in agt van Suid-Afrika se nege provinsies opgemerk.
Hierdie kewers is ongeveer 2mm lank en is inheems aan Suidoos-Asië. Die stompkopkewer saam met sy swam het geweldige skade aan bome in die Verenigde State en streke in die Midde-Ooste aangerig. Verder, te oordeel aan die aantal bome wat die kewer in Johannesburg sowel as Knysna gedood het, kan hierdie kewer moontlik een van Suid-Afrika se grootste ekologiese tragedies veroorsaak.
Die kewer besmet tans meer as 200 boomspesies uit 28 plantfamilies wêreldwyd. Die kewer self maak nie die boom dood nie, maar dit is eerder die swam wat die insek vergesel. Die swam teiken die bome se vaskulêre stelsel wat die vloei van water en voedingstowwe binne die boom inhibeer.
Ongelukkig is die kewers te klein om met die blote oog te gewaar. Die besmette bome word egter redelik maklik uitgeken.
Die simptome van besmette bome verskil tussen spesies, maar daar is talle opmerklike ooreenkomste wat aandui wanneer 'n boom besmet is. Dit sluit in:
- Dooie takke
- Uitgangs-/toegangsgate op die bas van die bome
- Donshaelagtige letsels op die bas by in-/uitgangsgate
- Vlekke van vloeiende hars op die bas by in-/uitgangsgate
- Houtpoeier op die bas by in-/uitgangsgate.
Dit is moeilik om al die boomspesies wat besmet kan word, te lys, maar van die belangrike kommersiële gewasse wat vatbaar is vir die stompkopkewer is:
- Avokado
- Pekanneut
- Perske
- Lemoen
- Wingerdstok
Tot dusver is geen middel nog beskikbaar om die stompkopkewer te troef nie en insekdoders is ondoeltreffend, aangesien die kewers diep in die hout inboor. Die enigste manier om tans die plaag te probeer bestuur, is om besmette bome af te kap en te verbrand om verspreiding te voorkom.
Tot op hede is die voorkoms van die stompkopkewer nog nie binne die groter Mosselbaai aangemeld nie, maar inwoners word versoek om bedag te wees. Skakel die Mosselbaai-munisipaliteit by 044 606 5000 of stuur ‘n e-pos na admin@mosselbay.gov.za indien enige teken van hierdie kewers gewaar word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’