Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Ingenieursbeplanning vir die opgradering van Louis Fourieweg tussen Beach Boulevard West en Garretstraat is bykans afgehandel.
Die pad se opgradering is 'n prioriteit vir die munisipale raad weens die druk verkeer in spitstye en tydens vakansies. Die provinsiale regering is oorgehaal om met die ontwikkeling voort te gaan, maar 'n taakgroep, verteenwoordigend van besigheidslui sal binnekort weer met die beplanners vergader om hul kommer oor sommige knelpunte uit te stryk.
Vrydag, 29 September het verteenwoordigers van die raadgewende ingenieurs, provinsiale padingenieur en omgewingskonsultante met belanghebbende besigheidslui oor die opgradering, wat in vyf fases sal geskied, vergader.
Verskillende fases
Fase een, die opgraderings van verkeerskruisings by Essenhout- en Schoemanstrate en die verkeersaansluiting vanaf Louis Fourieweg na Marshstraat, is afgehandel. Die direkteur van beplanning en geïntegreerde dienste, Carel Venter, sê dit het verkeersvloei verbeter.
Die provinsiale regering, wat vir die instandhouding en dus opgradering van Louis Fourieweg verantwoordelik is, wil met die volgende opgraderingsfase begin. Hierdie fase sal Louis Fourieweg teen 'n koste van R130 miljoen in 'n vierbaanpad met twee bane in elke rigting tussen Beach Boulevard West en Garretstraat omskep sodat verkeer vinniger kan vloei.
Die derde fase behels die trajek tussen Georgeweg, Bakke-, Canty- en Hallstrate, waarna die stuk tussen Marshstraat en Beach Boulevard West sal volg. In die vyfde fase word dele van Louis Fourieweg tussen Floraweg en Marshstraat, en tussen Garretstraat en Waboomstraat voltooi, hoewel verkeersdruk op die laasgenoemde gedeelte kan meebring dat dié opgradering gouer geskied.
Langtermynbeplanning
Volgens Dru Martheze van die Wes-Kaapse provinsiale regering is die ingenieursbeplanning gegrond op talle studies na die verkeersdrukte op die pad, asook die munisipaliteit se 20-jaar munisipale grondgebruiksbeplanning. Sy sê die opgraderingsbeplanning fokus daarop om verkeersdrukte tot minstens 2040 hanteerbaar te kan bestuur.
Volgens Martheze is die oogmerk spesifiek om verkeersvloei te verbeter deur minder verkeersligte en met tweebaanverkeer in elke rigting en met eksklusiewe afdraaie by sekere kruisings. Hierdie eksklusiewe afdraaie sal meebring dat verkeer net in een rigting, maar nie noodwendig meer oor die kruising sal kan afdraai nie.
Problematies
Besigheidslui ag eksklusiewe afdraaie by sommige kruisings problematies omdat dit kliënte mag verontrief en hul besighede mag benadeel sou bestaande toegange na die besigheidspersele belemmer word. Kommer bestaan oor die aansluitings by onder meer Watson, Sam Williams en die Langeberg Mall. By die Langeberg Mall is die verkeersaansluiting herontwerp om by Nestléweg aan te sluit, juis ter wille van ramprisikobestuur. Dit raak veral swaarvoertuigverkeer, hoewel enkele voorstelle daaroor gemaak is.
Die voorsitter van Mosselbaai se besigheidskamer, Fanus Truter het gemaan dat besighede nie vir 49 weke van die jaar benadeel mag word om verkeersdrukte oor drie weke van die vakansieseisoen te verlig nie. Hy het gevra dat aansluitings vir die Langeberg Mall en die eksklusiewe afdraaibane heroorweeg moet word.
Volgens Martheze het die opgraderings 'n langertermynbeplanningsraamwerk. Sy sê daar is wel met sommige groter besighede onderhandel en hul inkoop bekom. Sy benadruk dat toegange nie noodwendig belemmer word nie, maar dat verkeersvloei op Louis Fourieweg sonder onnodige verkeersligte wesenlik en oor die langer termyn sal verbeter.
Ekonomiese rugraat
Martheze het na Louis Fourieweg as Mosselbaai se ekonomiese ruggraat verwys, 'n dorpsbate wat op volhoubare wyse opgegradeer en bewaar moet word.
Mosselbaai se munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee, het ook gevra dat voorsiening gemaak moet word vir die taxi-bedryf wanneer die opgraderings beplan word, juis omdat die munisipaliteit nie oor grond in Voorbaai beskik vir die oprigting van taxi-staanplekke nie.
Kyk 'n video hieronder.
Die oogmerk is om verkeersvloei te verbeter deur verkeersligte te verminder en tweebaanverkeer in elke rigting met eksklusiewe afdraaie op sekere kruisings te skep.
ARTIKEL & VIDEO: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'