MOSSELBAAI NUUS - In 'n onlangse verklaring deur die ACDP het dié party kommer uitgespreek oor die Mosselbaai-munisipaliteit se "likiditeitstekort van R90 miljoen".
Raadslid Jeanette Gouws van die ACDP sê in eenvoudige terme is so 'n tekort negatief, want dit beteken die munisipaliteit het nie genoeg geld of maklik-toeganklike bates om sy korttermyn-verpligtinge na te kom nie.
Die party beweer die faktore wat tot hierdie situasie bygedra het, is te wyte aan die munisipaliteit wat vir die afgelope paar jaar 'n tekortbegroting ter tafel gelê het, wat 'n dreinering op kontantreserwes veroorsaak het, om onder meer die volgende redes:
• Besteding op nie-noodsaaklike items asook nie-dienslewering verwante besteding
• Onoordeelkundige afskrywing van slegte skuld
• Verkoop van grond aan ontwikkelaars teen afslag pryse. Grond verkope is 'n belangrike inkomste genereerder vir munisipaliteite
• Vervolg nie elektrisiteitsdiewe en vandale nie
Gouws is van mening dat drastiese stappe geneem moet word om kostes te bespaar.
Die likiditeitsinligting is gedurende 'n munisipale publieke rekenings-komiteevergadering bespreek sê Gouws.
"As besteding teen die huidige koers voortgaan, gaan Mosselbaai-munisiapliteit ons kontantreserwes uitput."
Volgens Gouws was die ACDP die enigste party om kommer uit te spreek gedurende die vergadering op 22 Januarie. Sy sê die party het ook die finansiële departement gevra watter stappe geneem sal word om huidige besteding en begrotingsgewoontes in te perk.
Mossel Bay Advertiser het in 'n navraag aan die munisipaliteit gevra of die bogenoemde redes volgens hom akkuraat is, al dan nie.
Die munisipaliteit is ook gevra of daar stappe vir kostebesparing geneem sal word en of die munisipaliteit homself tans, binne die konteks van die verklaring, as finansieel volhoubaar beskou.
Die munisipaliteit het gesê hy sal volledig op die navraag reageer. Terugvoering sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’