GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die Suiderkruis-komitee, wat saamgestel is ná ontevredenheid onder die gemeenskap van Groot-Brakrivier oor maatreëls by Suiderkruisstrand, het terugvoering verskaf na afloop van hul vergadering met die Mosselbaai-munisipaliteit.
Mossel Bay Advertiser het voorheen berig dat die gemeenskap ongelukkig was oor onder meer die versperrings wat toegang tot die strand/dagbesoeker-area beheer het, kameras wat inbreek maak op hul privaatheid, asook die feit dat hierdie maatreëls volgens hulle net op sekere plekke geïmplementeer word.
Die komitee sê die volgende is besluit:
1. Versperrings word verwyder.
2. Jy het ‘n keuse of jou voertuig deursoek word of nie.
3. Die volgende reels sal streng toegepas word:
- Geen alkohol word toegelaat. Die komitee sê die sosiale media boodskap wat mense aanmoedig om hul alkohol te bring is misleidend en teenstrydig met die Suiderkruis-komitee en Mosselbaai-munisipaliteit se ooreenkoms. Mense wat hierdie tipe misinformasie plaas sal vervolg word.
- Geen harde musiek.
- Sigbare wetstoepassing/sekuriteit/sigbare polisiëring.
- Kinders se veiligheid is nog steeds ouers se verantwoordelikheid.
Die Suiderkruis-komitee doen ‘n beroep op dagkampeerders om dié reëls streng na te kom.
“Indien jy nie gehoor gee nie sal jy verwyder word of ‘n boete kry by wetstoepassing,” sê die komitee.
Die komitee, onder leiding van Deverell Loff, vra dat die gemeenskap en besoekers van ander dorpe hul samewerking gee in die verband.
Die Advertiser wag nog op terugvoering van die munisipaliteit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’