Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Dit gaan goed met kolonel Tiger, die aangenome kat van die Mosselbaai-polisiestasie se speurafdeling. Kolonel Tiger se welstand is van uiterse belang - dít blyk duidelik tydens die Mossel Bay Home Ads News se besoek aan die speurafdeling vandeesweek.
Met ons aankoms lê Kolonel, soos hy deur die speurders gedoop is, ewe gerieflik in sy bed en slaap. 'n Entjie daarvandaan staan sy bak kos, gemerk in swart: Kolonel Tiger.
Dit is 14:40 en die Kolonel het duidelik geen dringende werk om af te handel nie. Dis in skrille kontras met die res van die kantoor waar speurders haastig met dossiere heen en weer loop. Waarnemende speurhoof, ao Jackie Grundlingh sit ook agter haar lessenaar, 'n klipgooi van waar die Kolonel, ten spyte van die gewoel, rustig slaap.
Kolonel Tiger is in Junie 2016 gevind waar hy as straatkat gereeld wag gehou het oor sy gemeenskap naby die polisiekantoor.
Kyk 'n video hieronder.
Alhoewel Kolonel Tiger dalk onder sy mede-straatkatte as 'n weggooi-kat bekend sou staan, het die speurders hom gereeld van kos voorsien tot Anne-Marie van Huizen, 'n administrasie-beampte by die kantoor, haar oor hom ontferm het.
Kort voor lank het die Kolonel soggens by die deur gewag, sy ontbyt geëet en hom dan vir die res van die dag op die bank in die kantoor tuisgemaak. "Maak hom wakker," por ek Anne-Marie aan terwyl die Kolonel slegs sy een oor beweeg.
Anne-Marie het duidelik baie respek vir die Kolonel want sy stap versigtig nader en toets eers die water deur oor die Kolonel se kop te vryf.
Hy begroet die liefkosing met 'n uitgerekte strekbeweging en krul sy naels van die lekkerkry. Op sy tyd maak die Kolonel sy groen oë oop. Hy gaap en kyk sy nuuskierige besoekers verveeld aan.
Sy aanneemma vertel trots hoe die dierebeskermingsvereniging (DBV) hom in 2017 gevang het om hom te steriliseer. Natuurlik was die Kolonel vreeslik verontwaardig om in 'n vanghok gelaai te word en om boonop 'n operasie te moes ondergaan. Maar liefdevolle speurders en lekker kos wat vir hom met sy terugkoms gewag het, het die Kolonel gou van die trauma laat vergeet.
Kolonel is duidelik kaatjie van die baan. Die speurders trap versigtig om hom en fluister as hy slaap sodat die Kolonel behoorlik kan uitrus. "Soms stap hy met 'n houding hier in en ignoreer ons as ons met hom gesels. Dan eet hy sy spesiale kos, aangesien hy net van 'n sekere tipe kos hou, en loop weer stert in die lug uit," vertel Anne-Marie.
Intussen het Kolonel Tiger ook 'n meisie gekry. Haar naam is Moeksie en sy kom kuier soms vir hom by die kantoor. Boonop rus geen speurder nie omdat Kolonel Tiger verwag dat sy "personeel" hom naweke ook sal voer. "Ons doen maar wat die Kolonel van ons verwag, hy is immers óns baas," sê Anne-Marie.
Anne-Marie van Huizen saam met kol Tiger.
Hierdie is die Kolonel se meisie, Moeksie. Sy kuier soms vir hom op kantoor.
Kolonel Tiger sal meestal in hierdie posisie in die speurders se kantoor aangetref word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'