Die geleentheid is aangegryp om in die minderbevoorregte gemeenskappe terug te ploeg en hierdie jaar was die kleuters van die Sinethemba Educare Centre in die Joe Slovo nedersetting die beguns-tigdes. Hierdie kleuterskool, wat in April 1992 tot stand gekom het, bedien tans 123 kinders van twee tot ses jaar oud vanaf 07:00 tot 17:00.
Met leerdertjies wat almal uit die omliggende plakkersgemeenskap kom, is skoolfonds slegs R50 per maand, maar net 'n handjievol van die ouers kan hierdie bedrag bekostig. Op Sondagoggend, omstreeks 09:00, het die Provinsiale Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, mnr Albert Fritz, die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai, Raadsdame Marie Ferreira, en verskeie ander raadslede en amptenare besoek gebring aan die Sinethemba sentrum, die skoolhoof, Thuthuzelwa Linkie Klaas, en talle van die ouers en kleuters om die skoolgebou weer aan die gemeenskap terug te gee, nadat dit omvattend opgeknap is.
Die opknappingswerk is op inisiatief van die munisipaliteit deur borgskappe van Royal Haskoning raadgewende ingenieurs en die Garden Route Casino Trust moontlik gemaak. In haar toespraak het Raadsdame Ferreira dit beklemtoon dat die munisipaliteit in hart en siel daarna streef om die fees se credo: 'Waar kulture ontmoet' tasbaar uit te leef.
"Die Diasfees was nie net gemik op die vrolike verrigtinge by die feesterrein nie, die behoefte van die gemeenskappe wie se lewensomstandighede groot uitdagings moet te bowe kom, het nie ongesiens en onaangeraak verby gegaan nie.
"Die opknappingswerk hier is met belastingbetalers se geld moontlik gemaak. Ons maak staat daarop dat die skool en gemeenskap die fasiliteite in hierdie goeie toestand sal handhaaf. Ons sal gereeld hier besoeke doen om steeds betrokke te bly," het Raadsdame Ferreira gesê.
Minister Fritz het bygevoeg dat vroeë kinderontwikkeling hom na aan die hart lê en het die gemeenskap aangemoedig om waarlik eienaarskap van die kleuterskoolfasiliteit te neem.
"Dit is hier waar môre se leiers gevorm word, waar die volgende Nelson Mandela, of Mosselbaai se volgende burgemeester, of die volgende sportheld se grondslag gelê word. Ons is dit aan ons kinders en aan ons eie toekoms verskuldig om hulle net die beste geleenthede te gee."
Die minister het ook die skool se leerkragte gemaan om noulettend te wees op die veiligheid van die kinders wat aan hulle toevertrou word. Hy het die vlaag kindermishandelings in die land betreur en ouers aangespreek wat hul kinders sonder toesig laat.
"Veiligheid begin by die huis - koester ons toekomstige leiers," het hy afgesluit.

Raadsheer Emil Scheepers, Raadslid Venolea Fortuin, die Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, en Thuthuzelwa Linkie Klaas, skoolhoof van die Sinethemba kleuterskool in Joe Slovo, wat as deel van die Diasfees gemeenskapsuitreikaksie opgeknap is.

Die Direkteur: Gemeenskapsdienste, mnr Colin Puren, en 'n ouer by die oorhandiging van Sinethemba kleuterskool op Sondag, 2 Februarie. Foto's: Nickey le Roux
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'