MOSSELBAAI NUUS - 'n Brand op Bergplaas van mnr Koos Maans, 'n vrugteboer het Maandag, 14 Oktober ontstaan. Die plaas is naby Zoar, Ladismith net voor Seweweekspoort.
Een van sy werkers, volgens hom, het 'n vuur gemaak tydens middagete en het dit nie behoorlik doodgemaak nie. Toe 'n stormwind opkom, het die vuur binne oomblikke versprei het.
Dinsdagoggend, 15 Oktober met eerste lig het bekende helikoptervlieënier, Kobus Crous na Bergplaas gevlieg om te gaan help.
Volgens Kobus is dit so 40 minute die vliegtyd van Mosselbaai tot daar. Dit is baie droog daar en daar was slegs een dam in die omgewing wat water gehad het vir helikopter om van te skep. Die wind het weer sterk gewaai en lugsteun is gebruik.
Kobus is Woensdag weer daarheen. "Ons het weer vroeg begin met die hulp van natuurbewaring, Garden Route-distriksmunisipaliteit en Working on Fire se grondspanne. Hulle het die noord-oostelike gedeelte begin blus tewyl ek besig was met die suid-westelike dele sowel as die noord-oostelike dele wat ek om die beurt van vroegoggend tot laataand natgegooi het.
Kobus vertel dat sy vrou, Lizelle net na 16:00 'n oproep van natuurbewaring ontvang het om te sê dat een van hulle mense, 'n vrou, in 'n koma is vermoedelik weens hitte uitputting en dehidrasie en verneem of hy, Kobus, hulp kan verleen.
Kobus het die bambi-bucket afgehaak en dadelik na natuurbewaring se span gevlieg wat op daardie stadium in 'n diep kloof was. Die vrou, wat steeds in 'n koma was, is op die agtersitplek van die helikopter gelaai en Kobus het met haar na veiligheid gevlieg. "Ons het ons by die naaste plaaswoning langs die Ladismith / Calitzdorpteerpad geland. "Intussen is 'n ambulans asook die ANS (Air Mercy Helicopter) van Oudtshoorn ontplooi en het ons daar gewag totdat hulle daar aangekom het wat redelik vining was. Hulle het haar bygekry en hospitaal toe geneem en sy is die volgende dag ontslaan. Soos ons verstaan was dit hitte uitputting en dehidrasie," vertel Kobus.
"Donderdag het dit slegs op 'n paar plekke gebrand maar weens 'n sterk wind het die brand later die middag gespring. Ons het aangehou om lugsteun te bied en teen Vrydagoggend kon ons daarin slaag om die brand te blus.
Ons bedank graag die grondspanne wat ons bygestaan het."
Die gedeelte by Bergplaas waar dit gebrand het.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'