MOSSELBAAI NUUS - Konstabels Jason Pokpass en Dillan Domingo van die Mosselbaai-polisiestasie het onlangs, na aanleiding van 'n klagte in verband met 'n gesteelde bankkaart, 'n verdagte persoon op 'n motorfiets op die hoek van Louis Fourie- en Georgeweg opgemerk.
Die konstabels het die verdagte na die polisiestasie geneem.
Al die ander lede van die betrokke skof het koppe bymekaargesit en uitgevind dat dit die verdagte persoon is wat gesoek word in verband met die diefstal van 'n Suzuki GSXR 650CC ter waarde van R90 000, 'n Suzuki GSXR 1000CC ter waarde van R80 000 asook 'n valhelm ter waarde van R12 000.
Die diefstal het in Klerksdorp plaasgevind.
Na 'n deeglike ondersoek het die ses skoflede tydens 'n bedekte operasie 'n vrou en man by die vulstasie in Heiderand in hegtenis geneem. Al drie verdagtes is in hul laat 20's.
Altesaam 10 sakkies vermoedelik gevul met heroïene en ses spuitnaalde is in hul besit gevind.
Na verdere ondersoek is daar kontak gemaak met polisiebeamptes in Klerksdorp wat die diefstalsaak ondersoek.
Al drie verdagtes word ook verbind met 'n besigheidsroof in Witbank en sal nou voor die hof verskyn in verband met hierdie misdrywe.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'