MOSSELBAAI NUUS - Sy het al vanaf 4-jarige ouderdom met papiertjies in die hand redenaars gespeel, en is nou al 'n paar keer nasionaal as die beste in haar ouderdom aangewys.
Ingrid Keyser, 'n graad 4-leerder aan Laerskool Park, is aangewys as die graad 4 tweetalige nasionale wenner by die Radikale Redenaars, wat onlangs in Gauteng gehou is.
Haar ma, Stefanie, vertel hoe al drie Ingrid se boeties redenaar-kompetisies gedoen het en sy moes maar altyd saamgaan en sit en luister.
Op vier het sy hulle baie vermaak met haar speel-redenaars. Ingrid se toespraak het vanjaar oor spookstories gegaan, sê Stefanie.
"'n Derde van ouers wil nie hê hul kinders moet spookstories lees nie, maar die televisie en internet is besaai met baie erger beelde en idees. En eintlik is kinders gek oor gril en kan die lees van spookstories hulle baie baat," sê sy.
Van die jongeling se ander stokperdjies sluit in viool, tjello en ukulele.
Sy doen ook sang en is gek daarna. Sy is versot op netbal en speel vir haar skool asook Stars binnenshuise netbal.
Verder is sy ook 'n kranige swemmer, met vryslag en borsslag, wat haar gunstelinge is.
Haar boeties sê ook sy is die beste sokker-doelwagter wat 'n meisie kan wees, vertel haar ma laggend.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’