MOSSELBAAI NUUS - Lede van die gemeenskap van Danabaai is baie bekommerd oor 'n nuwe tendens in dierehandel wat tans in die buurt kop uitsteek.
Volgens 'n lid van die publiek, is daar die afgelope paar weke 'n onbekende man wat kleinhondjies verkwansel.
Sy beweer dat sy die man verskeie vorige kere met ander hondjies in Danabaai sien rondloop het.
Gerda Reynders van die Tuinroete DBV op Mosselbaai, sê dat hulle begrip het vir lede van die publiek wat hondjies uit jammerte koop, maar raai dit af.
Die Mosselbaai-munisipaliteit, wat ook intussen van die tendens kennis geneem het, maan die publiek om kennis te neem dat die smous van troeteldiere in die openbaar in die munisipale area ingevolge die verordening oor die aanhou van honde (PK 6678 van 20 November 2009, artikel 9), streng verbode is.
Indien hierdie smousery opgemerk word, kontak die DBV ( 044 693 0824) of die Mosselbaai-munisipaliteit se 24-uur oproepsentrum (044 606 5000) om deurgeskakel te word na die wetstoepassingsafdeling.
Hierdie hondjie is so onlangs soos Vrydag, 9 Oktober in Danabaai verkwansel. Dit is papnat gereën by die plaaslike veearts afgegee sodat 'n geskikte huis gesoek kon word.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'