TUINROETE DISTRIKSNUUS - Monique Goosen van Southern Cape Bunny Haven het die volgende skrywe gestuur om Suid-Kapenaars te waarsku teen die gevare van Encephalitazoon Cuniculi (EC) wat weer sy lelike kop in die gebied uitgesteek het.
Dit is EC-tyd in die Suid-Kaap en diertjies kort voorkomende behandeling.
EC, 'n kleindier parasietiese siektetoestand, is tans weer bedrywig in die Suid-Kaap, veral in Mosselbaai en George.
Eienaars van hasies, marmotte, hamsters, krimpvarkies en ander kleindiere word gevra om diere te behandel voor hulle siek word.
Danabaai Veeartse en Southern Cape Bunny Haven vra dat eienaars hulle eksotiese diere gesond hou deur hulle profelakties (voorkomend) te behandel.
Verlede jaar dieselfde tyd het dr Susi Kok van Danabaai Veeartse vinnig ingespring met behandelings en Southern Cape Bunny Haven bygestaan om talle siek diertjies te dokter. Hierdie jaar is dit drs Henk Basson en Marais Cilliers wat oorgeneem het by Danabaai, terwyl Bunny Haven help waar hulle kan, maar self geen gevalle het nie as gevolg van hulle profelaktiese behandeling. VitalVet in George is ook bewus van die situasie.
Behandeling
Gaan kry by jou naasste veearts Panacur om jou diertjie vir nege dae te behandel. Dit is 'n kurses van nege tot 14 dae en nie 'n enkelbehandeling nie.
Wat is EC?
Encephalitazoon Cuniculi is 'n protozoa-parasiet wat die brein en organe aanval. Eerstens word die brein so aangetas dat die diertjie verlam word. As dit vinnig behandel word, herstel die diertjie gewoonlik 100%.
Wanneer die longe, hart, oë en niere aangetas word soos dit versprei, raak die kanse op herstel minder.
Dit is nie 'n virus of bakterie nie, maar 'n parasiet en maklik om te voorkom, maar egter ook maklik om op te doen deur diertjies wat buite kom.
Fases van EC
- kop is skeef (baie gevalle, nie almal)
- diertjie bewe
- diertjie begin skeef loop of in sirkels ( baie gevalle, nie almal)
- baie slap/lam houding
- oë begin jellierig raak en kan wit kolle kry as die parasiet die oogbal binnedring
- volle verlamming
- asemhaling raak moeilik
- verwurging en roggel
- dood
Die huidige EC-uitbreek werk vinnig - vanaf geen simptome na volle verlamming is moontlik binne 24 uur.
Waar kom EC vandaan?
- katte is die grootse draers
- EC kan in die grond lê (soos Parvo)
- vanaf die mis, uriene en speeksel van diere wat EC het of dra. EC kan ingeasem word vanaf 'n draer
- Suid-Kaap het 'n groter aanwesigheid van EC en veral nuwe diere wat in die streek inkom word siek
- EC kan lank dormant in jou diertjie lê en dan aktief raak wanneer daar seisonale veranderings, stres, operasies of trauma was. In die Suid-Kaap is Mei die piek van aktiwiteit.
Let wel
- nie alle klein diere word siek van EC nie, baie dra dit en steek ander diere aan. Hulle imuunsisteme maak dat hulle dt nie kry nie, maar wel oordra.
- kleindiere in die Suid-Kaap moet liewer elke ses maande profelakties behandel word vir EC, anders elke jaar begin Mei.
- Panacur is nie duur nie. Dit kos so min as R20 per diertjie.
EC en die mens
Slegs mense wat basies geen immuniteit het nie kan aansteek. Jou kans is groter om dit by jou kat te kry as by jou kleindiertjie.
Swanger vrouens se babas kan wel skade optel of hulle kan 'n miskraam kry as hulle diere EC dra of het, wanneer dit nie aan 'n dokter genoem word nie. Dit gebeur selde en is baie maklik om te behandel.
As u swanger is en 'n kat of kleindiertjie besit, gesels met u dokter.
Maak gereed om 'n diertjie te voer sou hy/sy siek wees.
As 'n diertjie reeds siek is en simptome wys, is dit 'n 28 dae kurses, en 'n veearts moet die diertjie sien en die nodige ekstra spuite en behandeling toedien.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'