Gallery
MOSSELBAAI NUUS - Die 10-jarige Sinavia Jaftha van Groot-Brakrivier het in April 2020 haar ouma en grootouma tydens die Covid-pandemie verloor.
Sy het daarna begin kla van erge hoofpyn en is later die jaar by die Rooikruis Kinderhospitaal in Kaapstad met breinkanker gediagnoseer.
FOTOGALERY: Dapper meisie oorwin breinkanker
Sy het 'n operasie ondergaan en moes vir meer as 'n jaar in die hospitaal bly om te herstel.
Elodiaan de Bruin, Sinavia se oom, vertel dat sy broerskind baie swaar gekry het met dié dat net haar ma saam met haar in die Kaap kon wees.
"Ons het gereeld met haar oor die foon gesels en bemoedig om aan en uit te hou." Sinavia was baie maer toe sy in Februarie 2022 ontslaan is en die dokters het aanvanklik gesê dat sy dalk nie weer sou kon loop nie.
Volgens Elodiaan het haar voog by wie sy bly, Michelle Jantjies, en die ander ooms en tannies baie moeite gedoen om haar aan te moedig om weer te loop. Sy het aanvanklik met 'n loopraam geloop en mettertyd gewig opgetel. Sinavia kan nou self loop al sleep sy haar voete 'n bietjie. Haar vriende kom elke dag kuier, maar sy wil baie graag teruggaan skool toe. Sy hou egter by met skoolwerk by die huis.
Elodiaan sê hy het begin om modelleerwerk te doen om te help met Sinavia se versorging en mediese koste. Hy doen ook akteurswerk en was onlangs 'n ekstra in die fliek Hart en Bos.
Elodiaan vertel dat hy met sy modelwerk vir Sinavia en haar suster 'n rolmodel wil wees. "Ek wil vir mense die boodskap gee dat ongeag jou omstandighede jy deur harde werk en geloof wel bo kan uitkom."
Sinavia en haar suster Simonds Jaftha onlangs by hul huis in Groot-Brakrivier afgeneem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'