KLEIN BRAKRIVIER NUUS - Tydens die Klein-Brakrivier VLV se Mei-vergadering, het lede en gaste die geleentheid gehad om die eenvoudige kruissteek na verdere hoogtes te neem.
Die leefstyl-sameroeper (en kruissteekkenner), Miens Willers, moes bontstaan om orals hand by te sit.
Lede van die Mosselbaai Besigheidskamer, Rene Malan en Lorette Grobbelaar, het 'n draai kom maak en lede uitgenooi na 'n sop en sjerrie geleentheid op 23 Julie.
Tydens die geleentheid sal Lynette de Beer en advokaat Ronald King gassprekers wees.
Klein-Brakrivier VLV het die eerste paar maande van 2019 nie-bederfbare-, tuisgemaakte-, tweedehandse en herwinde artikels (soos kos, speelgoed, kleertjies, hals- en leibande, kosbakke, kombersies en kussings), vir behoeftige diere bymekaar gemaak. Dit is in liefde aan Erika van Zyl van Caws 4 Paws oorhandig.
Erika het ook geleentheid gehad om oor Caws 4 Paws te gesels en almal uit te nooi om bydraes op watter vlak ook al te maak. Caws 4 Paws is gemeenskap- en diere welsynsorganisasie wat ten doel het om die swaarkry van huisdiere van minderbevoorregtes in die gemeenskap in en om Groot-Brakrivier te verlig.
Die immergewilde marktafel (hierdie keer onder leiding van gesondheid- en leefstylportefeuljes), het 'n verskeidenheid produkte gebied en alles is sommer vinnig uitverkoop. Terselfdertyd het die Pandora se boks groot vreugde verskaf vir die gelukkige ontvanger, Petro Reinke. Die kompetisies op takvlak en ook vir die VLV-konferensie, het weer eens vele inskrywings gehad. Na die vergadering het almal saam tee gedrink en gesmul aan heerlike lekkernye.
Daar is nie byeenkoms in Junie nie – gaan hou gerus lekker vakansie. Die volgende datum is 30 Julie onder leiding van die opvoeding portefeulje, meer inligting hieroor nader aan die tyd.
Miens Willers verduidelik hoe kruissteek gedoen word.
'Ons bring jou die nuutste Klein Brakrivier, Tuinroete nuus'