Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Dit is beslis nie net in Europa dat musikante gedurende die koronavirus se skrikbewind van hulle laat hoor het in verlate stede se strate om inwoners te bemoedig nie.
Of dalk het Mosselbaai nou 'n eie weergawe van dié "Lisa" in Koos Kombuis se trefferliedjie, Lisa se klavier, in konsertpianis, Olive Sandilands gevind. In die liedjie, sing Kombuis van sy vriendin, Liza Joubert wat vir 'n slapende Kaapstad klavier speel.
Sowat 'n week gelede het Olive haar huis se deure in 21ste Laan wyd oopgegooi en almal wat van die vlak 4-inperking se oefentyd gebruik maak tussen 06:00-09:00, met haar vleuelklavier se meesleurende klanke vermaak.
Videos van haar vroegoggend-optredes is deur verbygangers op sosiale media gelaai en aan lof vir haar inisiatief, was daar geen tekort nie.
"Vir die eerste keer in my lewe, kry ek nou ook die geleentheid om 'n straatmusikant te wees," lag Olive. Sy vertel dat sy as 'n reël nie so vroeg bedags oefen nie, maar nou dat sy aan die gang is, is dit vir haar heerlik "om net te kan speel vir wie ookal in die straat verbykom".
Haar "gehoor" tree ook verskillend op. "Party draf, ander stap, sommige stop en klap hande."
Kyk 'n video hieronder:
Sy vertel met genoegdoening hoe die ma van 'n kleuterdogtertjie en baba een van die "konserte" bygewoon het. Soos sy, het hulle ook 'n Schnauzer-hond by hulle gehad. "Hulle het in my oprit gestaan en luister en die ou dogtertjie het gedans op die maat van die musiek. Dit was te mooi."
Van Schnauzers gepraat sê Olive dat dit heelwat moeiliker is om Chopin te speel met haar Schnauzer, Bella op haar skoot, maar dis die enigste manier om te verseker dat die konsertgangers ongestoord kan luister. "Bella is mal oor mense."
Olive meen dat sy nou, al het sy vanweë die grendeltydperk met haar oggendkonserte begin, sommer besluit het om nie daarmee op te hou nie. "Die vreugde van musiek doen soveel vir mense se harte. Op hierdie manier kry ek meer kans om vir mense te speel. Eintlik beteken dit vir my meer as vir hulle. Ek glo my vleuelklavier het hier aangekom - for such a time as this."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'