MOSSELBAAI NUUS - Die Bloemspan Kiosk op Voorbaai is gister, op Maandag, 13 September beroof. Die Da Gamaskop polisiekommunikasiebeampte, Kaptein Wollie Fourie sê die voorval het om ongeveer 12:30 plaasgevind.
'n Voorlopige ondersoek dui daarop dat 'n man in 'n blou Hyundai voor die besigheid gestop het. Die verdagte het vlot Afrikaans maar met 'n Kaapse aksent gepraat. Hy het kos by die kiosk bestel.
"'n Werknemer van die kiosk het na die toonbank gestap om die man te help toe hy 'n bruin papiersak wat vermoedelik 'n vuurwapen in het, op haar gerig het."
Kaptein Fourie sê die verdagte het die vrou gedreig en daarop aangedring dat sy kontant aan hom oorhandig.
"Hy het met 'n onbepaalde hoeveelheid kontant gevlug."
Die polisie is in die proses om 'n gesigsamestelling van die verdagte saam te stel.
Enige inligting sal vertroulik hanteer en beloon word.
Die ondersoekbeampte in die saak kan gekontak word by 079 879 9003.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'