MOSSELBAAI NUUS - Skole op Mosselbaai het Woensdag, 15 Januarie hul deure vir die akademiese jaar heropen, maar daar is steeds kinders wat nog nie plek in skole kon kry nie.
Volgens Bongani Sinandile, adjunksekretaris van die Economic Freedom Fighters (EFF) se Mosselbaai-tak, is daar rede tot kommer.
Plaaslik, by Sao Bras Sekondêre Skool op Mosselbaai, is daar steeds leerders op 'n waglys, sê Sinandile.
Die Wes-Kaapse departement van onderwys (WKOD) se woordvoerder, Bronagh Hammond, het aan Mossel Bay Advertiser gesê dié skool het verskeie laat aansoeke gehad.
"Die distrik het daarin geslaag om al die leerders in die kringskole in graad 1 en graad 8 te kon huisves. Die kwessie is met betrekking tot laat oordragaansoeke," het sy verduidelik.
Sao Bras se waglys is vir leerders wat plek benodig in graad 9, 10 en 11, het Hammond bevestig.
Op 'n vraag oor of dit algemeen is om op 'n skool se waglys te bly teen die tyd dat skole heropen, het Hammond gesê daar is omstandighede wat hiertoe bydrae, soos wanneer ouers verhuis weens werksverpligtinge. Die departement kan egter nie verseker dat diegene wat aansoek doen, in die skool van hul keuse sal plek kry nie.
"Dit gebeur dat skole waglyste het as gevolg van leerders wat tussen provinsies beweeg. Op die 10de dag kyk skole na die inskrywingsnommers en stel ouers in kennis as plekke in grade waarvoor aansoek gedoen word, oop is."
Sinandile se kommer tweevoudig: kinders wat by die huis vasgevang is omdat hulle op die skool se waglys is en ook 'n tekort aan onderwysers. Hy het die situasie as sleg bestempel.
In 'n verklaring wat op 24 Augustus 2024 uitgereik is, het die Wes-Kaapse minister van onderwys, David Maynier, gesê "weens ernstige begrotingsbesnoeiings sal ons nie die huidige aantal onderwysposte in die Wes-Kaap kan handhaaf nie".
Wes-Kaapse skole staar die verlies van 2 400 onderwyserposte in die gesig weens 'n tekort van R3,8 miljard, vererger deur die nasionale regering se versuim om loonooreenkomste ten volle te finansier.
In 'n poging om die uitwerking van die begrotingsbesnoeiings te beperk, het die departement die werwing van die meeste staatsdienspersoneel bevries, skole aangemoedig om na kontrakaanstellings oor te skakel, en die aanstelling van plaasvervanger-onderwysers te beperk.
"Deur nog meer aan ons eie begroting te besnoei, sal ons tot 477 onderwysposte beskikbaar kan stel om ekstra leerders in ons skole te akkommodeer," het Hammond gesê.
Onderwysers word dan tussen skole verdeel, insluitend by nuwe skole wat personeel benodig en by skole wat 'n groot aantal aansoeke ontvang van leerders wat hoop om oor te skakel.
Hammond het aangeraai dat terwyl ouers wag op bevestiging dat hul kind suksesvol in 'n skool geplaas is, hulle nie hul kind moet deregistreer by die skool waar hulle tans ingeskryf is nie.
Die Advertiser het ook gevra of die departement enige hulpbronne beskikbaar stel om leerders, ouers en skole te ondersteun in areas waar daar nog waglyste is of waar skole deur die tekort aan onderwysers geraak word.
Hammond sê die departement het onderwyspakke versprei in alle distrikte sodat dit aan leerders geallokeer kan word wat steeds op plasing wag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’