MOSSELBAAI NUUS - Die mense van Kiewietstraat in D'Almeida, Mosselbaai, is omgekrap oor die munispaliteit se voorgenome sloping van 13 huise in hierdie straat.
Dit volg op 'n tenderkennisgewing op Woensdag, 7 November dat die munisipaliteit voornemens is om 13 bestaande ou huise te sloop. Die tender sluit op 30 November. Die sloping van die huise sal eers in 2013 geskied nadat die munisipaliteit weer met die betrokke Wyksraadslid, betrokke eienaars, projekbestuurder en die kontrakteur vergader het.
Al die betrokke inwoners van Kiewietstraat het blykbaar reeds titelaktes van hul erwe en die bou van nuwe huise op hul bestaande erwe het geen impak op die status van dié titelaktes nie.
"Kiewietstraat inwoners het vrywillig aan hierdie proses deelgeneem en was deeglik bewus daarvan dat die ou huis vervang gaan word met 'n nuwe huis op die erf", sê dr Michele Gratz, Mosselbaai se munisipale bestuurder.
"Versoeke is destyds van eienaars van Kiewietstraathuise ontvang om hulle by te staan met die probleme van hul huise wat gekraak is en waar fondasie versakkings voorkom. 'n Ondersoek het getoon dat van hierdie huise struktureel onstabiel is en dat dit nie geskik vir bewoning is nie. 'n Verdere ondersoek het getoon dat dit meer koste-effektief sou wees om eerder die bestaande huise te vervang met 'n nuwe huis as om die bestaande huise te probeer herstel.
"Die Regering se program om diesulke gevalle van hulp te wees staan bekend as die noodbehuisingssubsidie program (Emergency Housing Programme). Ten einde vir die genoemde subsidie te kwalifiseer, moet die eienaar van 'n huis meedoen om 'n aansoekvorm te teken en stawende dokumentasie soos 'n ID en inkomste-bewyse indien.
"Die doel of oogmerk van die betrokke subsidie is juis om die bestaande struktuur te vervang met 'n struktuur wat bewoonbaar en veilig is. Indien die bestaande struktuur dan steeds bewoon sou word nadat dit vervang is met 'n nuwe huis, val dit buite die reëls waarbinne die subsidie in die eerste plek deur die provinsiale owerheid toegestaan is.
"Dit is dus 'n voorwaarde in terme van die betrokke subsidieprogram dat die ou struktuur gesloop moét word. Hierdie nakoming van die subsidiereëls is onderworpe aan 'n oudit in terme van die korrekte toepassing van die subsidie-program-oogmerke en reëls", sê dr Gratz.
Gratz het bygevoeg, "Die Raad het reeds grond geïdentifiseer langs Bill Jeffrey rylaan vir 'n projek van ongeveer 700 erwe, op grond van die Louis Fourie Korridor-studie en hierdie projek is vervat in die 2020 Visie vir Behuising in Mosselbaai om 'n aanvang te neem in die 2017/2018 begrotingsjaar."
Volgens Dawid Kamfer van Icosa het die party nadat die tender gepubliseer is om 13 huise in D'Almeida te sloop, die polisie genader om 'n bloedbad soortgelyk aan die Hopeville voorval van 'n paar jaar gelede te voorkom. Hy sê die mense van D'Almeida moet toekyk hoe vir ander mense, wat onlangs eers op Mosselbaai kom woon het, behuising geskep word, terwyl daar weinig vir gebore Mosselbaaiers gedoen word. Hierdie kwessie, sê hy, was deel van die petisie wat sy party in Mei 2012 aan Mosselbaai se Uitvoerende Burgemeester, Raadsdame Marie Ferreira, oorhandig het.
Inteendeel, sê hy, ten spyte van onlangse, hewige besware, het die munisipaliteit voortgegaan met die ontwikkeling van Erf 6422 vir behuising vir die mense van Asazani en Izinyoka, terwyl die jong mense en haweloses van D'Almeida, Tarka en die Uitbredings geen vooruitsig van behuising het wat hul nood sal aanspreek nie.
"Die mense van Kiewietstraat moes van die strukture in hul erwe afbreek, strukture waarin hul kinders en familie gewoon het, sodat die nuwe huise gebou kan word. Nou moet die ou huise afgebreek word. Waar gaan daardie kinders en familie nou moet woon? Baie van hierdie huise is skakelhuise. Wat gebeur wanneer strukture wat nie afgebreek word nie, verswak word wanneer net een deel van 'n ou huis wel afgebreek word?"
Kamfer sê gemoedere in Kiewietstraat en die res van die gemeenskap loop hoog en hy het die polisie daaroor ingelig om 'n herhaling van die Hopeville gebeure te probeer voorkom.
Inwoners met wie die Mossel Bay Advertiser gesels het, erken dat hulle bewus was dat die ou huise afgebreek sal moet word, maar dat hulle steeds nie weet wanneer hierdie proses sal begin nie. Hulle bly hoop dat dit nie sal gebeur nie omdat daar geen ander heenkome vir hul families is wat nou in die ou huise woon nie. Alternatiewe behuising is nie ter sprake nie, alternatiewe grond is nie geoormerk nie, en hulle kan nie bekostig om 'n sinkskuiling uit eie fondse op te rig nie.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS