MOSSELBAAI NUUS - In een van die vakansieseisoen se eerste vreemde misdaadvoorvalle, het 'n standbeeld van Kersvader wat in die parkeerarea van een van Mosselbaai se gewilde winkelsentrums gestaan het, vandeesweek voete gekry.
En dit is skynbaar nie saam met 'n slee en takbokke om êrens kamma te gaan presente aflewer nie
Die standbeeld, wat by die hoofingang na die Langeberg Mall, oorkant MacDonald's gestaan het, is volgens inligting bekom van die Da Gamaskop-polisie op Dinsdag, 19 Desember verwyder.
Videomateriaal verkry van die sentrum se sekuriteitskameras toon dat 'n nutsvoertuig omstreeks 01:00 op die toneel gestop het waarna vier mans uitgeklim het. Die mans het die Kersvader-standbeeld in die voertuig gelaai en weggery.
"Die standbeeld sal seker êrens na die seisoen verlate gevind word nadat dit uitgedien is. Hopelik het dit vir iemand plesier gebring," het 'n anonieme persoon by die sentrum droogweg kommentaar gelewer na die insident.
Die standbeeld is ongeveer R5 000 werd. 'n Diefstalsaak word ondersoek deur kst Deothine Vaas van die Da Gamaskop-polisie.
"Daar gaan definitief opgetree word teen oortreders wat betrokke is by hierdie tipe voorvalle. Die erns van die gevolge van hierdie daad moet besef word," sê kapt Wollie Fourie, kommunikasie-beampte van die Da Gamaskop-polisie.
Enige persoon met inligting oor die voorval of wat dalk die Kersvader-standbeeld êrens gewaar, kan kst Vaas kontak (044 606 2200).
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'